Ouerskap
Geskryf deur Gretha Wiid   

Die hoe en die wanneer van kinders en seks

Vir almal van ons wat dalk nog ons mans in die slaapkamer beloer van onder die lakens (opgetrek tot teen die neus, om nie te praat van die lang nagrok/flennies en sagte sokkies nie), sal enige gesprek rondom kinders se seksuele ontwikkeling ‘n angswekkende item op die agenda wees. Indien jy as ma in hierdie kategorie val, stel jou pas-aangeër, skud die krummel uit die bra, en weet verseker…seksopvoeding is NIE ‘n eenmalige gesprek oor menstruasie óf die hantering van ‘n ‘nefie-het-vir-niggie-gestreel-krisis’ nie! Dit is die oprigting van jou kinders om manne/vroue na God se hart te word – wat gesond sal voel en leef wat betref hulle liggame, hul seksualiteit en eindelik eendag…hul huwelike! En ja, God het ‘n plan vir jou kind se seksualiteit en huwelik. Ons kán oor ons liggame, seks en selfs wêreldse dinge gesels op ‘n Jesus-manier.

Maar seksopvoeding klink maklik genoeg, totdat jou vierjarige met ‘n tampon (opgedruk in die een neusgat) in die geselskap verskyn en vra wat dit is. Nee, mamma, dit is NIE ingevoerde watte nie! Maar ingeval dit ook jóú antwoord sou wees – hier’s ‘n bietjie hulp met jonger kinders:

  • Bly ALTYD kalm wanneer die kind seksuele woorde of speletjies en gebare gebruik (al het nefie vir niggie gestreel). ‘n Ouer wat dadelik raas en met teleurstelling of skok oorreageer, kan groot skade aanrig ten opsigte van die kind se skuldgevoelens en haar vertroue in die ouer.
  • Maak altyd seker dat jy jou kind se vraag reg verstaan. Jy wil nie die fout maak om haar te antwoord op iets wat sy nié gevra het nie. Laat my dink aan die seuntjie wat vir sy mamma gevra het wat presies ‘n moffie is. Na ‘n lang, en oorweldigende verduideliking van homoseksualiteit, het Jannie heel geskok gesê dat sy juffrou niks weet nie, want sy’t gesê dis ‘n soort handskoentjie! Eina! Vra byvoorbeeld eerder doodluiters waar hy van só ‘n groot woord gehoor het en wat hy dink dit beteken.
  • Praat altyd die waarheid op jou kleuter se vlak. Sê liewer minder, maar praat die waarheid! Gee vir klein kindertjies net een feit op ‘n slag. Saam met elke feitelike antwoord, moet jy jou kind emosioneel anker en God se visie vir haar as vrou met haar deel.
  • Alhoewel dit heeltemal in orde is om spesiale naampies te gebruik om na die kind se geslagsdele te verwys, behoort die kind wat skool toe gaan te weet wat die regte terme ook is. (Penis en minus klink in elk geval baie dieselfde – die woorde is dus nie te groot nie) Gee tog net ‘n positiewe troetelnaam - verkieslik nie iets soos byvoorbeeld haar oestertjie nie. Sy poog dalk te vroeg om haar pêrel te ondersoek.
  • Oogkontak en fisieke aanraking is baie belangrik vir jonger kinders. Kyk diep in jou jonger kind se ogies as jy haar vertel van die wonderlike dinge van haar lyfie – so ook vir jou seun.
  • Ouers moet nooit die fout maak om te dink dat hulle kinders nie nuuskierig is nie net omdat hulle niks vrae vra nie. Hulle is dalk net skaam of sensitief. Indien sy teen skoolgaan ouderdom nog niks gevra het rakende haar geboorte of waar sy vandaan kom nie, moet jy die aanvoor werk doen. Wanneer julle alleen is, besig met iets alledaags soos kos maak, sê jy in ‘n gemaklike stem (haal 70 keer diep asem indien nodig): “Hey, liefie, mamma kom agter jy het nog nooit gevra hoe jy in my lyfie gegroei het nie. As jy wil weet sal ek vir jou sê, hoor. Jy kan maar net kom vra”. En dan gaan jy aan met die koek of wat ookal. Moenie nou ‘n gespanne stilte in die lug laat hang en dwarsdeur die bodem van die pot klits van stres nie. Gaan rustig (indien jou spasma dit toelaat) voort met jou verdere gesels. As sy nog steeds niks kom vra nie (na ten minste ‘n week se verloop), mag jy op ‘n ewe gemaklik wyse op ‘n selfgeskepte geleentheid vir haar van dié mooi dinge vertel.



Kom ons kyk nou hoe lyk al hierdie wenke in ‘n praktiese voorbeeld Die groot vraag : Was ek ook in mamma se magie?

“Ja, jy het hier in my baarmoeder gegroei, naby aan my hart. Kom voel bietjie hoe klop my hart. Jy het so lank hier naby my hartjie gegroei, dat ek nooit ooit sal vergeet hoe spesiaal dit vir my was nie!”
“Hoe het ek daar binne gekom?”

“Ek en pappa het gebid en vir Jesus gevra vir ‘n babatjie. Hy het toe gesorg dat daar ‘n saadjie in mamma se baarmoeder moet groei – onthou jy, hier naby my hart. Daardie saadjie het gegroei en gegroei en toe sy gebore is, toe sien ons dit was al die tyd JY!” Anker nou jou kind deur allerhande spesiale dinge aan haar te vertel rondom haar geboorte. Nie fisiese detail nie, maar wel emosionele detail rondom julle opgewondenheid, haar warm lyfie, pappa se trots ens.


Wat die besondere, emosionele spesie van kinders ouer as 9/10 betref, is die inligting van die seksuele nie náástenby so belangrik as die feit dat julle oop kommunikasie kanale sal hê nie. En al is dit net ouers van tieners wat werklik begrip het waarom sekere insekte hul pasgeborenes eet, is dit steeds só belangrik dat jy ‘n expert sal word wat betref die kommunikasie in jou huis. Hoekom kommunikasie? Navorsing het by verskeie geleenthede bevestig dat kinders met wie daar goeie kommunikasie rondom hul menswees en ‘n warm verhouding in die huis is, by uitstek dié tieners is wat kies om NIE seks te hê voor die huwelik nie en groepsdruk makliker hanteer. Daarom ‘n paar riglyne rakende tienerkommunikasie:


  • Kinders wat aansluip na puberteit is baie particular wanneer dit kom by vertroue. Hulle toets dikwels hulle ouers vroeg-vroeg in die resies om te bepaal presies hoe eerlik jy bereid is om te wees, hoe vertroulik hulle gesprekke gehou word. Praat dus altyd die waarheid. Kinders waardeer eerlikheid meer as wat meeste ouers besef. Indien jy nie die antwoord ken tot ‘n vraag nie, sê vir jou kind dat jy nie seker is nie, maar sal uitvind. Meeste kinders kry in elk geval genoeg seksuele info op die televisie om hulle besig te hou tot op die ouderdom van 107.  Hulle soek dus eintlik na jóú opinie en sekuriteit.
  • Hou sensitiewe gesprekke ‘n geheim. Moet dit asb. nie met jou vriendinne deel nie. Al is jy hoe opgewonde oor haar bystekies of eerste menstruasie! As jou kind jou een keer uitvang daarmee, sal sy jou nooit weer vertrou nie!
  • Gebruik die media tot jou voordeel. Voer gesprekke oor bv. aborsie of tienerswangerskap wanneer jy iets daaroor lees in ‘n tydskrif of dit sien op TV. Vra háár opinie en of hulle ooit oor sulke dinge praat by die skool. Gesels byvoorbeeld oor Britney en Westlife – vra waarvan sy hou en waarmee sy haarself kan identifiseer. Moet nie alles aflag wat vir haar belangrik is nie. Hou die kontak!


Voor enige verdere gelees, moet die “flennie en sokkie – ma’s” dalk eers ‘n kalmeerpil gaan soek. Die belangrikheid van die ondergenoemde kwessies, moet nie onderskat word nie. Jy kan natuurlik kies om te dink dat jou kind defnitief NIE oor sulke dinge wonder nie en dat sy gans en al te jonk is vir hierdie inligting. Die vraag is egter nie of jou kind oor sulke dinge wonder of nie. Die feit is dat jou kind defnitief een of ander tyd in ‘n klaskamer of by ‘n partytjie tussen maats gaan wees wat oor die volgende gaan praat.

Dit sou fantasties wees as jy die moeite kon doen om die (regte) antwoorde op die volgende te verkry. Moenie aanneem dat dit wat jou ouers aan jou vertel het, feitelik korrek is nie. En wanneer jy ooit die ongelooflike geleentheid sou kry om hierdie dinge met jou kind te bespreek, maak seker dat jy nie net vashaak by die wetenskaplike feite nie, maar ook die diepere waardes gepaardgaande met elke vraag ook met jou kind sal deel. Kinders behoort die volgende te weet en verstaan teen die ouderdom van ongeveer12.   Gee jou kind die feite, hou haar fokus op Jesus!


Kan ‘n tampon jou virgin breek?
Wat is die beste – tampons of doekies?
Wat is masturbasie en is dit gevaarlik?
Is dit ‘n sonde om na pornografie te kyk?
Hoekom krimp my testes as ek koud kry?
Kan ‘n meisie swanger raak as sy nog nooit begin menstrueer het nie?
Wat is ‘n wet dream? Kry meisies dit ook?
Hoekom kry seuns morning glories?
Hoekom sê die Bybel dat voorhuwelikse seks verkeerd is?
Hoekom word ‘n seun se penis sommer vanself styf – al het hy nie aan seks of ‘n meisie gedink nie?
Hoekom kry meisies soms ‘n witterige afskeiding in hul onderklere? Om maar ‘n paar te noem.


Wat seks en groepsdruk betref is ons as kinders van ‘n soewereine God, nie ván hierdie wêreld nie, maar moet ons en ons kinders kan staande bly en geestelik groei ín hierdie wêreld. Jóú kind se uitnodiging staan. Gryp hierdie ongelooflike geleentheid om aandeel te hê in die bereiking van jou kind se Goddelike roeping as man en vrou. God sê sekerlik nie verniet dat sy volk ondergaan weens ‘n gebrek aan kennis nie. Onkunde waarborg nie onskuld nie. Die keuse is joune – weerbaar of kwesbaar! Kom ons kies weerbaar…ín die naam en vír die naam van Jesus!



‘n Joshua-generasie van redelike ouers

Wie van ons kan nie kere onthou dat ons gevoel het ons ouers is onredelik nie? “Dis unfair!” wou ons graag sê, maar durf dit nie gedoen het nie (tensy jy in jou”terrible two’s” was en jy ‘n paar skoppe op die vloer gewaag het). Met honderde opvoedingsteorieë en samelewingseise in plek, is een feit meer waar as ooit - ouers word meer as ooit tevore in en om die huis teen mekaar afgespeel, onder die vaandel dat ons redelik moet wees. ‘n Generasie van gehoorsame ouers speel mooi saam - óf vanuit die hoop dat ons dalk die gewildheidskompetisie sal wen óf uit vrees dat ons kinders sal rebelleer weens té streng dissipline. Dís ‘n wêreldse generasie. ‘n Joshua generasie doen dinge anders. Hierdie generasie neem die beloofde land van aanvaarding, liefde en respek saammet hulle kinders in, deur te onderskei tussen onredelike eise volgens die wêreld en volgens ons Hemelse Vader. In ‘n oppervlakkige en wêreldse samelewing, kan ons gerus onsself gaan meet aan die dieper eienskappe van ‘n onredelike ouer –


* die ouer wat nalaat om sy kind van jongs af te tug, maar eis dat hy gedissiplineerd moet leef as tiener
* die ouer wat nalaat om die ou koeie van sy kind se dwaalpad onder die kluite te los, maar eis dat sy kind vergewensgesind moet wees
* die ouer wat nalaat om sy kind onvoorwaardelik lief te hê en te aanvaar, maar onredelik eis dat die kind trots moet loop en die wêreld in die oë moet kyk
* die ouer wat sy kind met lekkergoed en geskenke vergoed, maar verwag dat hy eendag die dieper dinge in die lewe moet waardeer
* die pa wat nalaat om leiding te neem as priester van die huis, maar die respek van ‘n koning eis
* die ma wat nalaat om haar man met respek te behandel, maar hoop dat haar dogter in haar eie huwelik in God se orde sal wandel
* die ouer wat onderdanigheid eis, sonder die warmte van liefde en respek vir sy kind in ruil
* die ouer wat sy kind gedurig met ander vergelyk en verwag dat sy kind hom sal glo wanneer hy sê “Jy is ál wat ons wil hê”
* die ouer wat nalaat om sy kind se geslag onvoorwaardelik te aanvaar, maar hoop dat sy kind eendag ‘n man of vrou van waarde sal wees

Die mees onvermydelike feit van opvoeding is dat ons as ouers foute sal maak en soms onredelik sal wees, die mees onvergeeflike fout sal egter wees om nie die verwagtinge en eise van Jesus voor te leef nie.


Is jy 'n skuldige ouer?



Al ooit gewonder waarheen die tieners van vandag oppad is of waar hulle vandaan kom? Wil jy graag 'n ander tipe kind grootmaak as dié wat ons aanmekaar sien hang in die malls, met broeke wat se diwwe sleep tussen hulle enkels en hare wat klaarblyklik allergies is vir sjampoe? Dan moet ons besef - 'n paar basiese opvoedingsfoute is ál wat dit vat om nóg sulke tieners te kweek.

Gebrekkige erkenning

As jy nalaat om jou kind onvoorwaardelik te aanvaar, in hom belang te stel en woorde van erkenning te gee, maak jy hom makliker vatbaar vir iemand wat belangstelling toon op bv. MXit. Jy kweek dalk 'n kind wat desperaat is om erkenning te kry...al is dit by verkeerde maats. Party kinders is só seer en stukkend, dat hulle dwelms en seks gebruik om te ontvlug na 'n wêreld van "wie-gee-om"? Onthou: as iemand lank genoeg in die woestyn is sonder water, sal hy desperaat gryp na iets so min soos 'n teelepel water. Of beter - hy sal heel moontlik sy siel daarvoor verkoop! Is jou kind honger of dors?

Te min verantwoordelikheid

Kinders wat grootword in huise waar hulle altyd uit die gemors uitge-bail word, waar hulle meer regte het as pligte en waar die teleurgestelde gesig van 'n ouer die ergste straf is wat hy ooit kry, besef selde dat die lewe 'n goue reël bevat van oorsaak en gevolg. Hulle glo maklik dat hulle untouchable is as dit kom by dwelms, drank, seks, verkeerde maats, ens. Gesonde verantwoordelikheid kan jou kind nóóit breek nie, maar heel moontlik eerder in sy karakter inbou!


As hulle altyd kry wat hulle wil hê

Wat is pornografie, masturbasie en buite-huwelikse seks anders as "instant gratification"? "Ek het 'n behoefte - dit moet nóú bevredig word!" As ons kinders altyd kry wat hulle wil hê, maak ons hulle dalk groot vir een van hierdie dinge. Krimp jou hart ineen as jou kind se gesiggie hang en die lippe bewe omdat hulle "nee" vir 'n antwoord gekry het? Watch hoe krimp jou hart ineen as jy hom eendag moet bystaan na dwelmmisbruik, seks op 'n partytjie wat uitgeloop het op 'n swangerskap, of 'n motorfiets ongeluk omdat hy dronk was! Selfs God sê gereeld "nee"! Wees 'n Goddelike ouer - jou "nee" kan dalk jou kind se lewe red!


Leegheid, TV en al die tegnologie

Tieners wat speletjies speel soos die choking game, wat orale seks vir mekaar gee voor maats in die rainbow-sirkel op 'n partytjie, wat hulleself sny dat die bloed loop of wat iemand se drankie op 'n partytjie spike, net vir die genot, het al by menige geleentheid aan my erken dat dit vir hulle 'n adrenalin-rush gee....hulle laat alive voel! Het jy al ooit gewonder of hulle boring, leë middae en aande voor die TV, rekenaars of selfone iets te doen het met hulle soeke na "avontuur"? G'n wonder die tieners self raak dinge kwyt soos "Get a life" nie!


Reëls wat verstaan moet word voordat dit gevolg wil word

Ons voel so maklik onbillik wanneer ons reëls neerlê waarvan tieners verskil of bloot nie verstaan nie. Onthou: God vra dikwels dinge van ons wat ons nie verstaan nie. Sy "reëls" is nie altyd lekker of noodwendig volgens ons regverdig nie. As jou kind nét dié dinge hoef te volg wat hy verstaan, gaan jy dalk lank sukkel om ooreenstemming te bereik oor seks voor die huwelik, drankgebruik voor die ouderdom van 18, of beperkings rondom sy selfoon. Maak jou kind God-gereed! Eis soms dat 'n onverstaanbare reël gevolg moet word!


Ons kan nog so baie dinge sê oor die verband tussen ouers se foute en tieners se uitkoms. Die belangrikste egter om te onthou? Vandag se saad, is môre se oes. Begin vandag nog om wyd te saai. Saai erkenning, verantwoordelikheid, belangstelling, dissipline, liefde, vertroue, aandag en geestelike kos, om maar 'n paar te noem.


Dit verg ouers wat bereid is om soms verkeerd te wees, om te erken dat hulle die bus met hierdie saad dalk gemis het. Kom ons wees vir 'n slag eerlik met onsself en daarna kan ons die Here saam prys, want....Sy busse kom altyd weer verby. Hy spesialiseer in tweede kanse en weer-probeer!                                                                                                             
Artikel vir Rapport oor Kinderseksualiteit 29 Junie 2008

1.    What is, in your opinion, the reason for the recent increase in cases of sexual assault and harassment of children by their peers?

Gee vir my 'n seksmal wêreld (van die media tot die modes), tesame met ouers wat al hoe minder fisiese tyd aan hul kinders spandeer, gesinne met waardes wat agteruitgaan, geld en speelgoed wat veronderstel is om kinders gelukkig te hou, dissipline en die basis van wat reg en verkeerd is wat in die naam van kinderregte by die agterdeur uitgaan.......en ek gee vir jou 'n kind wat nie net eksperimenteer met seks nie, maar wat die tragiese gevolge van 'n seksmal wêreld aan sy lyf en sy hart voel....LEWENSLANK!


2.    Can one identify any specific causes for this behaviour and is any particular group more at risk of becoming a victim or perpetrator?

Kinders wat deur ander kinders gemolesteer word, raak al hoe groter 'n probleem. Ouers moet besef dat dit alle vlakke van die samelewing raak. Ons wil so maklik glo dat dit net by kinders voorkom met swak sosio-ekonomiese omstandighede. Die teendeel is egter waar! Die een enkele kategorie wat van kinders makliker slagoffers maak ,is die katergorie van emosioneel honger - 'n soeke na aandag en liefde. Kinders wat nie weet wat hulle werd is en lief is vir hulleself nie, trap makliker in sulke strikke, word makliker uitgebuit -moontlik omdat hulle nie selfgeldend is nie, moontlik omdat hulle nie die 'perpetrator'-maatjie wil verloor nie.


3.    Is there any evidence behind the theory that exposure to sex on television is a catalyst for this kind of behaviour?

TV alleen dra nie die skuld nie, maar dra die grootste blaam van aanhitsing en nuuskierig maak. Kinders leer deur nabootsing. Seksuele rolmodelle word in die gesigte van kinders gedruk. So baie advertensies het belaglik onvanpaste seksuele ondertone. Die TV se plek as ongesonde rolmodel mag nie onderskat word nie. Die bewys is dieselfde as dié van gravitasie. Jy't nie bewys nodig nie, jy kan net om jou rondkyk!


4.    What specific effects does the early exposure to pornography or sexually explicit material have on a child’s mental development?

Klein kindertjies kan eenvoudig nie pornografie verstaan nie. Seksuele beelde is vir hulle verwarrend en laat hulle met duisende vrae. Omdat hulle nog aan hulle geslagsdele dink in terme van uitskeidingfunksies, is die blote penetrasie daarvan(of die gebruik om te penetreer) vir kinders emosioneel traumaties. 'n Kind wat blootgestel is aan pornografie sal baie makliker van iets soos borste (sy ma s'n, subtiele uitbeelding op sepies of advertensies), 'n fokuspunt maak. Wat die emosionele en verstandelike ontwikkeling van die kind betref ? Enige trauma of verwardheid in die gemoed van 'n kind, het altyd 'n beduidende effek op die ontwikkeling van so 'n kind.


5.    If there is any evidence that exposure to sexual imagery (erotic, not pornographic), leads to this behaviour, what can we do to protect our kids from being exposed to these stimuli, seeing as it is everywhere?

·         Monitor jou TV, blok programme met 'n hoër perk as "familie"

·         Verwyder enige tydskrifte met seksuele beelde en selfs artikels uit jou huis uit

·         Wees bewus van wat aangaan in jou kind se maatjies se huise - ander ouerhuise moet ook gemonitor word - ter wille van jou kind

·         Moenie jou kind seksueel bewus maak van haar/homself deur altyd te noem dat sy bv so "sexy" lyk nie

·         Trek jou kind ouderdomsgepas aan - sogenaamde 'sexy' aangetrekte kinders word makliker die prooi. Hulle LYK soos 'n target, en tree later op soos wat hulle aangetrek is!

·         Ouers mag mekaar NOOIT intiem soen voor hul kinders nie!

·         Moet nooit jou kleuter toelaat om jou 'n 'TV-soen' te gee nie - wees ferm, maar liefdevol as jy verduidelik dat hy jou nie só mag soen nie.


6.    What can one do, as a parent, to prevent your child from becoming a victim of abuse by a friend/classmate?

·         Onthou: Jy kan jou kind nie 24 uur beskerm nie. Jou kind moet homself kan handhaaf by die kleuterskool of skool. Daar is altyd kinders wat meer inligting en blootstelling het as jou eie kind! Raak gemaklik met die idee dat jou kind seksuele vrae gaan vrae of inligting nodig het.

·         Praat gemaklik en spontaan oor jou kind se seksualiteit en sy/haar lyfie - tydens badtyd, speeltyd, ens.

·         Verwys altyd positief na jou kind se liggaamsdele

·         Maak seker dat jou kind jou met emosionele sake kan vertrou. As jy jou kind se gevoelens uitbuit, of grappies maak oor dingetjies wat hom kan laat verleë voel, sal hy dalk meer huiwerig wees om 'n intieme geheim te deel met jou.

·         Spreek ALTYD trots uit as jou kind die waarheid met jou kom deel het - die waarheid oor enige iets! Jou kind se soeke na erkenning en trots in jóú stem en oë, dwing hom dalk om te kom deel.

·         Moenie net hamer op die "vreemde" mense wat nie aan hulle lyfies mag vat nie. Maak maats ook deel van die waarskuwingspakket.

·         Vertel vir jou kind dat hy só slim is, dat jy sommer weet hy ander maatjies sal reghelp wat na sy onderbroekie/lyfie wil kyk of vat.

·         Trek vir jou kind onderklere sonder prentjies aan kleuterskool toe. Hulle wil dikwels spog oor hulle nuwe "barbie of spiderman"-broekie. Dit was al in baie gevalle die begin van 'n geloer en 'n gevat!

·         Leer jou kind dat 'n badkamer by die skool nie 'n speelplek is nie. As hy klaar sy draai geloop het, moet hy dadelik uitgaan! En niemand behalwe juffrou mag hom/haar afvee as hy nog hulp nodig het nie


7.    What are the warning signs to look for that your child may be a victim of sexual abuse by a friend or classmate?

·         Verskillende kinders reageer verskillend. Ouers moet nie op grond van een enkele simptoom oorreageer nie, maar kyk gerus uit vir die volgende:

·         Skielike bednatmaak of glipsies in die broekie

·         Seksuele speletjies met poppe of ander kinders

·         Pre-okkupasie met geslagsdele. Dit is raadsaam dat ouers moet besef daar is 'n verskil tussen kinders wat bloot hul eie liggame ontdek - miskien loer na hulself, of aan hulself vat - en kinders wat skielik hul handjies wegruk as jy op hulle afkom en sommer skuldig lyk!

·         As jou kind huilerig is en nie meer wil skooltoe gaan nie.

·         As jou kind skielik aan jou borste wil vat, sê dat hy jou wil vry

·         Rooierigheid rondom die rektum of geslagsdele


8.    How can one tell if your child may be prone to being the perpetrator of such acts?

·         Pre-okkupasie met seksuele speletjies of vrae

·         Kinders wat andersins ook maklik boelie

·         Kinders wat maklik jok oor dinge

·         Kinders wat self die slagoffer was/is van molestering

·         Kinders wat blootgestel is aan pornografie of seksuele dade van ouers


9.    What steps can parents take if they find out that their child has been a victim of abuse, at school or at a friend’s.

·         Jou reaksie (wanneer jou kind jou die eerste keer vertel of jy dit uitvind) is die belangrikste oomblik van óf genesing óf van verdere trauma!

·         Bly kalm. Vra RUSTIG uit wat gebeur het of wat gedoen is. Jy MAG GLAD NIE raas met jou kind of teleurstelling uitspreek nie. Sê eerder iets soos: "Mamma dink jy weet dit was nie reg nie, né?

·         Moet jou kind nie dreig met straf as jy gaan uitvind dat dit weer gebeur het nie.

·         Spreek uit dat jy baie bly is (en trots) dat hy vir jou kom vertel het. Erken jou kind se emosie - "mamma kan sien dat jou hartjie baie seer is, dat jy nie lekker voel nie en dat jy bang was dat mamma sou raas"

·         Tensy daar penetrasie van enige aard, kontak tussen mond en geslagsdele was, behoort sielkundige begeleiding nie nodig te wees nie. Die ouer se "luister" en versekering van liefde is wat saak maak.

·         Jou kind kort nog steeds 'n vaardigheid. Maak saam met hom/haar 'n praktiese plan wat om te doen indien dit weer sou gebeur of watter plekke (en maats) by die skool hy moet vermy. Gee op kindervlak vir jou kind die woorde wat hy moet gebruik om 'nee' te sê en wat hy dan daarna moet doen bv. gaan sê vir juffrou.

·         Stel die skool in kennis van wat gebeur het. Hulle kan jou kind nie beskerm as hulle nie bewus is van die 'molesteerder' nie. Vra vir die skool wanneer hulle die saak gaan hanteer met die 'ander' ouers (die 'molesteerder' s'n). jy het die reg om te weet wat hulle gaan doen asook die reg op terugvoer.

·         Al voel dit of jy die ander kind wil doodmaak, mag jy nooit met so 'n kind raas nie. Alhoewel jy dalk nie so voel nie, moet jy onthou dat só 'n kind óók 'n slagoffer is/was.

 

Terug na die vorige blad

Voorblad Ouerskap | Kinders en seksopvoeding

Luister hierna...

2011 Beste Verkopers

WWC_2011

Die_affair_verby

facebook_logo

Volgende geleentheid

11.02.2012 | 09.00 Eva se lyf
14.02.2012 | 18.30 Seks in die huwelik
18.02.2012 | 10.00 Liefdestale van die huwelik
25.02.2012 | 09.00 Ma- en dogterdag
09.03.2012 | 19.00 Kinderdissipline
<<  February 2012  >>
 Su  Mo  Tu  We  Th  Fr  Sa 
     1  2  3  4
  5  6  7  8  910
1213151617
192021222324
26272829   

Nuusbrief registrasie

 
  16 Bougainvillea Mews, Bougainvillea Estate, Montana Tuine  |  079 4999 989  |  0866 799 046  | info@grethawiid.co.za
_