|
Geskryf deur Gretha Wiid
|
Woordgebed vir elke vrou
Here, ek kom in die naam van Jesus om U te loof en my hartsbegeertes voor U te bring.
Dankie dat ek op U Woord kan staan wat sê dat ek met vrymoedigheid voor U genade troon kan staan (Heb. 4:16), wetende dat ek vrygespreek en geregverdig is in die naam van Jesus (Rom.5:1).
Dankie, Here, dat U Heilige Gees my in my swakheid bystaan wanneer ek nie weet hoe en wat om te bid nie. Dankie dat ek weet dat die Gees vir my pleit, en dat U weet wat die bedoeling van die Heilige Gees is. Dankie dat die Heilige Gees vir ons intree volgens U wil (Rom. 8:26-27)
U is waardig om geloof te word. U is my skild en my veilige vesting by wie ek skuil. (Ps. 91: 2)
Here, ek weet U ken my, my hart, my gedagtes en my begeertes. Ek weet dat U my geken het nog voor ek gebore is, en dat U my lewensloop opgeskryf het nog voor dit begin het (Ps. 139:16)
Ek prys U naam omdat U Woord bepaal dat niks my van U liefde kan skei nie (Rom 8: 38). Niks wat ek doen of sê kan U liefde van my af wegneem nie. Dankie daarvoor, Here!
Here, ek voel baie keer so hulpeloos, en kyk so maklik vas in my eie tekortkominge. Maar ek weet dat wat vir my onmoontlik is, wel vir U moontlik is (Luk. 18:27).
Here, ek kies vandag om te glo dat dít wat ek in lyn met U woord in my gebed vra, ek alreeds ontvang.....en omdat ek dit glo, weet ek dat dit so sal wees (Mark.11:22-24). Gee dit dit ‘n vaste wete in my hart sal wees. Versterk asseblief my geloof!
Ek weet dat my woorde die oorsprong van lewe of dood kan wees en dat ek die vrug van my eie woorde sal dra (Spr.18:21). O, Here Jesus, help my dat ek lewe sal spreek. Dat ek positief sal wees in die dinge wat ek sê. Wys my asseblief waar ek dood gespreek het oor my eie lewe, my man, my kinders en ons toekoms. Ek vra dat U my sal help om vir vandag U Woorde te spreek.
Dankie dat ek kan weet dat U Woorde nie leeg na U toe kan terugkeer nie, maar tot uiting sal kom (Jes.55:11)
Ek loof U omdat U vir my planne van voorspoed, en nie teenspoed het nie (Jer. 29:11) en dat U niemand voortrek nie (Rom.2:11) My hartsbegeerte is om allereers U koninkryk te soek, sodat ek met verwagting kan uitkyk vir U seën (Matt. 6:33). Help my vandag om U koninkryk te plaas bo my eie begeertes, en U angesig te soek in alles wat ek doen.
Dankie dat ek nie moedeloos hoef te wees nie, maar kan weet dat U genade vandag vir my en my gesin genoeg is, en dat U krag juis tot werking kom wanneer ek (ons) swak is (2 Kor.12:9-10).
Daarom bely ek my eie swakheid en vra dat U my gebed sal verhoor. Ek weet dat nie deur my eie krag en mag kan slaag nie, maar deur U Gees (Sag. 4:6).
Dankie dat ek deur die Heilige Gees self gesalf is, en dat Hy my van die Waarheid sal oortuig (1 Joh. 2:27)
In my oortuiging vra ek dat U my sal rig om nie vas te hou aan uiterlike godsdiens nie, maar dat ek die innerlike krag daarvan sal erken (2 Tim. 3:5)
Here, ek bid dat U my sal wys op reëls wat deur mense uitgedink is, wat nie deur U beveel is nie, maar blindelings deur my gevolg word. Ek weet dat dit U Woord kragteloos maak in my eie lewe (Matt.15:6)
Ek vra dat U my sal help om te doen wat die Woord sê. Dat ek dit nie net sal aanhoor en nie sal uitleef nie, en só myself bedrieg nie (Jak. 1:22)
Ek bid dat ek die krag van U Woord in my lewe sal ervaar, omdat U Woord die twee snydende swaard is, dit is kragtig en gee lewe (Heb. 4:12)
Ek bid dat U Woord soos vuur in my lewe sal wees, soos ‘n hammer wat harde rots in stukke laat spat (Jer. 23:29)
Here Jesus, omdat U Woord my leer dat die Satan rondloop soos ‘n brullende leeu, opsoek na iets wat hy kan verskeur en verwoes (1 Pet. 5:8), bid ek dat U my sal beskerm.
Ek vra dat U U engele sal opdrag gee aangaande my veiligheid. (Ps. 91:11) en dat U liefde en getrouheid my sal bewaar (Ps. 40: 12)
Ek kies om myself aan U te onderwerp. Help my asseblief om die Satan te weerstaan. Dankie dat U belofte staan dat die Satan dan van my sal wegvlug (Jak. 4:7)
Vader, ek weet dat ons volgens U Woord gewikkel is in ‘n geveg waar dit nie sal help om my eie planne of mense se raad te volg nie. Gee asseblief vir my U wapens waarmee ek die stellings van die Bose in my lewe kan afbreek (2 Kor. 10: 3-4)
Ek bid dat U my sal seën met ‘n Gees van Wysheid en begrip, ‘n goeie oordeelsvermoë en krag, tesame met kennis en ontsag vir U (Jes. 11:2).
Ek bid dat U vir my ‘n rein hart sal gee, en dat U my gees sal vernuwe (Ps. 51:12)
En as daar areas in my lewe is waar ek nog ‘n hart van klip het, bid ek vandag dat U vir my ‘n vleishart sal gee in die plek daarvan. (Eseg. 36:26)
Ek vra dat U my hart en gedagtes sal bewaar, omdat dit my hele lewe bepaal (Spr. 4:23)
Gee my die krag en die insig om elke vyandige en sondige gedagte waarmee mense vorendag kom te onderskep en onder U Woord se gesag te plaas. (2Kor. 10:5)
Here Jesus, ek begeer om nie gelyk te word aan hierdie sondige wêreld nie, maar deur U verander te word deurdat U my denke vernuwe. Ek weet dat ek dan sal kan onderskei wat U wil is, en wat vir U goed, aanneemlik en volmaak is (Rom. 12:2)
Ek bid dat U my grondgebied sal vergroot, my sal seën en sal beskerm en weerhou van enige smarte (1 Kron. 4:10)
Vir jou huwelik: Here, ek dank U vir my maat en die verbond waarin ons is. Ek bid dat U ons huwelik sal heilig maak sodat ook ons kinders U sal dien (Mal. 2:15)
As uitgekose "warrior" vir my man, spreek ek vandag uit en vra dat hy die lof van sy eie fontein sal besing, en hom sal verheug oor my, sy eie vrou (Spr. 5:18). Dat hy sal weet dat hy geroep is om my lief te hê soos wat Jesus die kerk liefgehad het. (Efes. 5: 25).
Gee my die ywer, krag en insig om hom te respekteer as hoof van die huis. Gee vir my openbaring dat ek nie sal vaskyk in mense se sieninge hieroor nie, maar sal weet dat dit deur U bepaal is (Efes. 5:22)
Ek bid dat my man my sal waardeer en sal bly wees oor my (Spr. 5:18)
Ek vra dat U ons huwelik sal reinig van alles wat ons liggame en gees verontreinig. Ek begeer dat ek en my maat ons volkome aan U sal wy in gehoorsaamheid (2 Kor. 7:1)
Ek bid dat U my sal help om aangename en vriendelike woorde teenoor my man te gebruik, omdat dit so soet soos heuning is en genesing sal bring vir hom (Spr. 16:24)
Ek bid vir eenheid in U naam in ons huwelik. Ek weet dat ‘n gesin en regering wat in homself verdeel is en waar die mense mekaar teëwerk, nooit sal bly staan of hou nie. (Matt. 12:25).
Gee my die wysheid om my man nie summier teë te gaan nie, maar hom goedgesind te wees en hartlik teenoor hom op te tree. Ek bid ook dat U my sal help om hom te vergewe soos wat U my vergewe. (Efes. 4:32)
As hy moeg en oorwerk is, begeer ek dat hy sy vertroue op U sal stel, omdat U Woord sê dat sulke mense nuwe krag sal kry, sal vlieg met arendsvlerke (Jes. 40:31).
Gee dat my man homself nie sal afsloof ter wille van rykdom nie, en ook nie sal roem in sy eie idees nie (Spr. 23:4)
Ek bid dat U my man sal seën en hom sal beskerm. Ek vra dat U in alles tot sy redding sal kom en hom genadig sal wees. Verhoor asseblief sy gebede en gee vir hom vrede (Num. 6:24-26)
Ek bid dat hy hom nie sal laat oorwin deur die kwaad nie, maar die kwaad sal oorwin deur die goeie (Rom. 12:21).
Ek staan op U Woord wat sê dat my man nie bo sy eie kragte versoek sal word nie en dat U die uitkoms sal gee as hy in versoeking kom (1 Kor. 10:13).
Ek vra dat U vir my man 'n rein hart sal skep, sy gees sal vernuwe en hom standvastig sal maak (Ps. 51:12).
Ek bid dat sy lewe deur U Gees beheers sal word sodat hy nooit sal swig voor die begeertes van sy eie sondige natuur nie (Gal. 5:16).
Ek vra dat my man se gedagtes vernuwe sal word en dat hy sal kan onderskei wat U wil vir homself en ons gesin is (Rom. 12:2).
Ek bid dat my man sy gedagtes sal rig op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is (Fil. 4:8)
As hy in sy besigheid of persoonlike lewe by 'n kruispad staan, vra ek dat U hom sal help om te vra watter pad die beste is, dit sal loop en daarom sal vrede vind (Jer. 6:16)
Laat my man wees soos iemand wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra (Ps. 1:3)
Ek bid dat ons kinders hom sal eer en respekteer (Eksod. 20:12), en dat hy hulle nie so sal behandel dat hulle opstandig sal raak nie (Efes. 6:4)
Ek bid dat u my man se lippe sal aanraak en dat hy woorde van lewe sal spreek. (spr. 18:21). Plaas asseblief ‘n wag voor sy mond en gee dat hy versigtig sal wees met die dinge wat hy vir my en die kinders sê (Ps. 141:3)
Ek bid dat my man U sal dien, omdat U Woord verklaar dat U hom dan alles sal gee wat hy nodig het (Ps. 34:10)
Here, dankie dat ek nooit in my huwelik hoef vas te hou aan die verlede nie, maar dat U iets nuuts vir my doen. Dankie dat ek kan glo dat U reeds begin het om strome lewende water te stort oor die dorre woestyn land (Jes. 43:18-19).
Ek kyk met verwagting en geloof uit na U seën vir my man en my huwelik.
Vir jou kinders:
Dankie Here dat kinders vir u kosbaar is en dat u koninkryk vir hulle bedoel is (Mark. 10:14).
Ek vra dat U U Gees sal uitgiet op my kinders en U seën op my nakomelinge (Jes. 44:3).
Ek vra dat U vir my kinders onverdeelde harte en 'n vaste koers sal gee en dat hulle U altyd sal dien (Jer. 32:39).
Gee asseblief dat my kinders sal weet dat hulle méér as oorwinnaars is (Rom. 8:37) as hulle maats hulle soos "losers" laat voel.
Skep by hulle ook 'n vaste wete dat hulle by hulle name geroep is en dat hulle aan U behoort (Jes. 43:1).
Help hulle asseblief dat hulle nie agter die dinge van die wêreld sal aangaan nie of soos hulle maats sal wees nie, maar dat hulle gedagtes nuut sal word en hulle hul lewe elke dag sal verander om U te behaag (Rom. 12:2).
Omdat maats kinders kan breek, vra ek dat U my kind sal seën met ‘n maat wat nader is as ‘n broer, maar een wat U dien (Spr. 18:24)
Gee asseblief vir my kinders wyse maats, omdat U Woord verklaar dat mense wat omgaan met ander wyse mense, self meer wysheid verkry (Spr. 13:20)
Ek vra dat U hulle sal beskerm sodat hulle nie agter die goddeloses sal aanloop nie, dat hulle die pad van slegte mense sal vermy (Spr. 4:14).
Gee dat hulle veral in hulle tienerjare sal weet dat U hulle kunstig aan mekaar geweef het, dat U hulle geken en liefgehad het nog voordat hulle gebore is. Dankie dat ek kan weet hulle lewensloop is in U boek opgeskryf nog voordat dit begin het (Ps. 139: 13-16).
Gee dat hulle sal weet dat hulle U oogappels is as dit voel of geen van hulle maats van hulle hou nie (Sag. 2:8).
En al voel hulle asof hulle geen noemenswaardige talente gekry het nie, dat hulle sal weet dat U vir elkeen van ons sekere bekwaamhede gegee het (Rom. 12:6).
Ek vra dat U hulle die wysheid sal gee om lewe te spreek oor hulleself en hulle toekoms en dat hulle die vrug daarvan sal dra (Spr. 18:21).
Beskerm hulle asseblief teen seksuele versoekinge en gee dat hulle sal weet dat hulle liggame U tempel is (1 Kor. 6: 13-18).
Beskerm hulle gedagtes en hulle harte, want dit bepaal hulle hele lewe (Spr. 4:23).
Gee asseblief U engele opdrag aangaande hulle veilgheid oral waar hulle mag gaan (Ps. 91:12).
Ek vra dat U elke maat of mens wat dood, onguns of teenspoed oor hulle uitspreek, se woorde sal verander in 'n seën en voorspoed, soos wat U beloof in U Woord (Deut. 23:4).
Ek verklaar U Woord wat sê dat geen wapen wat teen U dienaars gevorm word, tot uiting sal kom nie. Laat dit so wees vir my kinders (Jes. 54:17)
Ek bid dat my kinders U Woord dag en nag sal oordink, dat hulle die dinge van U Woord sal doen en daarom suksesvol sal wees (Jos. 1:8)
Ek bid dat U ook my kinders se grondgebied sal vergroot. Seën hulle, wees hulle genadig en ontferm U oor hulle. Hou teenspoed van hulle af weg sodat smarte hulle nie tref nie (1 Kron. 4:10)
Ek bid dat U U Gees op my kinders sal uitsort en hulle sal vrymaak (Jes. 44:3)
Ek vra dat hulle daagliks meer volwasse sal word, en sal groei in die guns wat hulle by U en die mense het (Luk. 2:52)
Vader, spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam (1 Tim. 6:18)
Gee dat hulle verstandig sal wees, hulle humeur sal beteuel en hulle eer daarin sal stel om vergewensgesind te wees (Spr. 19:11)
Ek bid dat U hulle sal vooruitgaan, en dat U mag en majesteit hulle agterhoede sal dek (Jes. 58:8)
Gee dat hulle sal smag na wat reg is, omdat hulle dan versadig sal wees van elke honger en dors (Spr. 14: 27)
Ek bid dat hulle volkome op U sal vertrou en nie op hulle eie insigte sal staatmaak nie. Ek bid dat hulle U in alles wat hulle doen sal ken sodat hulle op die regte pad kan loop. Here, ek bid dat hulle nie sal dink dat hulle die wysheid in pag het nie, maar dat hulle U sal dien en die slegte sal vermy. Dankie dat dit vir hulle ‘n geneesmiddel en verkwikking sal wees (Spr. 3: 5-8)
Ek bid dat my kinders profesieë na die volk en hulle maats sal bring, en dat U planne aan hulle bekend sal maak in visioene, soos wat U Woord beloof (Hand. 2:17)
Ek as vrou en ma, kies om u te dien, sodat my man en kinders 'n veilige toevlug in U sal hê (Spr. 14:26). Ek vra dat U my sal help om reg te doen en eerlik te lewe, sodat dit met my kinders kan goed gaan en hulle gered sal word (Spr. 20:7)
Amen
|
|
2011 Beste Verkopers


<< February 2012 >>
| Su | Mo | Tu | We | Th | Fr | Sa |
| | | | 1 | 2 | 3 | 4 |
| 5 | 6 | 7 | 8 | 9 | 10 | 11 |
| 12 | 13 | 14 | 15 | 16 | 17 | 18 |
| 19 | 20 | 21 | 22 | 23 | 24 | 25 |
| 26 | 27 | 28 | 29 | | | |
|