Dit voel of ek tussen die spreekwoordelike rock and a hard place is. Daar is 'n man by my werk met wie ek baie goed oor die weg kom. Ek weet dis verkeerd, maar ek geniet sy nabyheid meer as dié van my man. Alhoewel hy ook getroud is, glo ek hy is my soulmate. Het ek 'n fout gemaak om met my man te trou? Ek weet nie waarheen nie!
Ai, ou puntstert en sy bemarkingspan! Die gras is mos altyd groener aan die anderkant. Al ooit gewonder of die hoeveelheid poef op die gras iets daarmee te doen het? Jy gaan nie hou van my raad nie, but here it goes!
'n Kykie in die spieël
- Jy het waarskynlik gevoel jou man is jou soulmate toe julle destyds getroud is, geglo hy gaan jou vir altyd gelukkig maak, maar....julle het intussen julle huwelik se vonk verloor soos duisende ander huwelike. Hierdie nuwe soulmate van jou se asem stink ook in die oggend, hy gee ook aandag aan ander vroue met wie hy nié getroud is nie (jy's 'n duidelike bewys daarvan!), hy is bereid om sy kinders se emosie op die prys te stel.....vir 'n "ander" vrou! Wat laat jou dink jy gaan vir ewig voel soos wat jy nóú doen? Jy't jare terug ook so gedink!
- Alle verhoudinge begin met vlinders in die maag! Maar met die tyd saam gaan alle huwelike deur stres en probleme. Finansïele stres, kinders, skoonfamilie, siekte, ouderdom, oortyd by die werk...ag, noem dit! Jy sien nou net die beste van hierdie man! Sy "af" kant is dalk erger as dié van jou man?
- God sal nóóit een huwelik se verbrokkeling goedkeur net sodat Hy 'n ander een kan bless nie! Jy loop met naïewe hoop rond....hoop dat julle 'n geseënde verhouding kan hê. Wie sal dit seën? God? God eer verbond. Punt! Sy blessing lê by jou huidige verbond!
- Wat vervul hierdie man vir jou wat deur jou éie man afgeskeep word? Ons moet altyd weer herinner word dat 90% van alle buite-egtelike verhoudinge gegrond is op hóé die persoon jou láát voel en NIE hóé jy óór hom voel nie! Iemand wat werklik dors is, sal bereid wees om te settle vir 'n klein slukkie lou water! Is jy emosioneel dalk só dors dat jy besig is om lou water aan te sien vir vars fontein water?
Kry jou kop en jou hart op die regte plek
Gaan op jou knieë en praat hierdie ding uit met die Here. Bely jou gevoelens en vra vir vergifnis. Jy het die Here nodig vir perspektief. Jou hart is in alliansie met die satan se plan. Jou hele hart gaan dus skree teen dit wat God vir jou wíl en kán doen!
- * Maak fisies 'n afspraak met jou man. Sonder om hom te blameer, vertel vir hom dat jy regtig méér wil hê saam met hom. Sê vir hom dat jy "julle" mis. Spreek jou emosionele behoeftes uit - dat jy dalk meer affection wil hê, meer tyd dat hy na jou stories sal luister, meer gesinstyd saam, meer lag, dat jy opbouende en waarderende woorde nodig het. Wat ookal jy nodig het om te blom.
- * Die belangrikste is dat jy ook vir hóm moet vra wat hy nodig het om genuine gelukkig te wees. Jy het waarskynlik ook verander met tyd. Jy was dalk altyd avontuurlustig, het gelag, het belanggestel in jou man se dinge, was meer gretig oor intimiteit, het minder gekla en gekritiseer....
Die hardste ding in die wêreld is om introspeksie te doen, ons aandeel in dinge te erken en dan te moet verander. Dis wat dit gaan vat! 'n Vrou wat ongeag haar gevoelens bereid sal wees om te baklei vir verbond! With God as a partner, you're allowed to dream BIG and wait for a miracle!! Net God verander harte van klip in harte van liefde - live by faith, not by sight!
Ek werk voldag, het drie kinders, maar voel soos ’n enkelouer! Ek sukkel elke aand alleen met die aandete, die kinders se badtyd en huiswerk, ag, met ALLES! En my man? Hy sit geplak voor die TV! Hoe gemaak voordat ek mal word of wegloop?
Ek het hoeka al in vorige uitgawes gespot oor manne wat hoofskap sien as hoofseunskap, terwyl die mammas sleg die rang van skolierpatrollie het. ’n Skolierpatrollie wat moet toesien dat huisverkeer en versorging vlot verloop, en soms die voorreg geniet om te lê vir ’n vergadering met hoofseun! Helaas, die gespot klink in jou geval vir my soos ’n nare waarheid. Bose kringloop
’n Man se selfsug en afwesigheid laat so maklik bitterheid in die vrouehart broei. Bitterheid manifesteer dan maklik in ons houdings teenoor ons konings. Ons loop in die huis rond soos vroue met ’n krummel in die bra, of ’n panty waarvan die rekkie eenvoudig net té styf sit! Ons deel maklik klein stekies uit, verloor ons respek en vorm onwetend ’n alliansie met die kinders. Die uiteinde is ’n wrewelrige, morsdooie gevoel aan ons binnekant. Ons wrewelrigheid verjaag die manne dan maklik na ’n veilige plek...die TV! Verbreking van hierdie bose kringloop, gaan eerstens introspeksie en dan strategiese planne verg. Die hoender of die eier - wie was eerste?
Sonder dat ek ’n vinger na jou wil wys, moet jy jouself tog eerlik afvra of daar ’n tyd was dat jou man wél betrokke was met die kinders en huishouding? Indien wel, wat het sy afwesigheid veroorsaak? Het jy hom met als probeer reghelp asof sy poging nie 100% in die kol was nie? Of in plaas van ’n tikkie dankbaarheid vir sy "halwe" hulp, het jy hom dalk eerder gewys op dít wat hy wél nagelaat het om te doen? Indien een van hierdie dinge vir jou ’n klokkie lui, lê die oplossing dus by jou! Mamma se seun?
As jou man egter nog altyd half aan die lui en onbetrokke kant was, is dit eerder ’n opvoedings- en karakter ding. Alhoewel die oplossing dan by hom lê, het jy groter kans om swanger te raak met windbestuiwing, as wat hy dit op sy eie gaan agterkom en verander. Onthou, tradisie bepaal ook dat huishouding en kinders ’n vrou se werk is. Hy is mos die broodwinner?! Tradisie verblind hom dalk vir die feit dat jy ook bydra met die inkomste. In só 'n geval, gaan JY die bal aan die rol moet sit. Plan van aksie
Reël ’n aand uit, nét vir julle twee. Wees regtig into hím! Vertel hom dat jy hom mis en dat vir jou lekker sal wees as julle meer tyd kan maak vir gesins-, kuier- en alleentyd. As jy dit kan regkry om hom onmisbaar vir jou en die kinders te laat voel, is die stryd half gewonne. As jy hom gaan aanvat en veroordeel, gaan hy homself verdedig op die mees tradisionele manier - rangtrek en onttrek! Gebruik eerder ’n positiewe aanslag soos: "Ek dink die kinders mis jou in die aande. Jy is so ’n great pa en het so baie om te gee." Of wees méér reguit, maar sonder veroordeling: "Ek weet dat jy my liefhet, waardeer en my vrouwees respekteer. Wanneer jy my nie help met die kinders of dinge rondom die huis nie, voel ek in my hart ongewaardeerd en alleen met die kinders. Ek glo met my hele hart dat dit nie jou bedoeling is nie. Ek sal so baie daarvan hou as jy my in die aande help." En dan in jou sexy stem....:"Wie weet, as ek vroeër in die aand klaar maak, kry jy dalk meer as één bonus!" Dis belangrik dat jy vóóraf jou hart moet ondersoek vir manupilasie, verwyte en bitterheid. Dis altyd beter om die koning se manwees te beskerm as om dit aan te vat.Wees opreg en geduldig in jou soeke na sy betrokkenheid. Dit gaan nie noodwendig oornag 100% verander nie. As hy egter met iets help, sê dankie, lyk opgewonde, maak hom attent daarop hoe die kinders sy betrokkenheid geniet. Konings reageer van nature fantasties op eerbetoning! Onthou, ekstra hulp is op die spel!
Ek is redelik skaam en konserwatief as dit kom by slaapkamersake, maar wil so graag meer opwindend wees vir my man. Ek weet regtig net nie waar om te begin nie. Kan jy my dalk help met ’n paar kreatiewe idees sonder dat ek noodwendig ongemaklik gaan voel en my man ’n hartaanval gaan besorg? Oeee njammie, as dit kom by avontuur, sê ek: Va-va-vooooom! En die lekkerste deel van kreatiewe idees, is dat jy sommer ’n kielie-klingel by jou katel-knoppies kry net by die uitdink daarvan. Moenie noodwendig wegtrek met die kreatiefste van die idees nie. Buiten dat jou man dalk regtig styfskop (bedoelende dat hy onwillig kan wees oor die vreemdheid), kan ’n goed bedoelde reaksie soos: "Wat het in jou ingevaar?", jou verwerp en soos ’n stuitige gek laat voel. Die uiteinde? Jy sal dit ten-to-one nooit weer waag nie! Kreatiewe plekke
Min dinge laat jou sekslewe so afgestomp voel soos dieselfde posisie in dieselfde bed. •Loop kaal onder jou japon rond terwyl jy doelbewus iets doen dat jou man dit moet sien. En as die kinders nog daar rondhang, word jy die spreekwoordelike verbode vrug. •Lank laas in die kar gevry? Terwyl julle alleen in die kar ry en jou hand oudergewoonte op jou man se been is, kan jy gerus sy manlikheid streel met ’n ferm, maar sensuele vryf of twee. Wees versigtig vir die handrem (lees: ereksie, he-he). As dié op is, sal hy moeilik bestuur! •Verras hom in die garage as hy terugkom ná werk. Niks soos ’n heerlike warm bonnet nie! •Hom al ooit gaan besoek by sy kantoor? Indien die kantoor privaatheid toelaat, mag jy mos op die baas se skoot gaan sit, of hoe? En net klein dogtertjies se mammas sê hulle moet ALTYD mooi sit! Neem jouself onder hande
As ons sexy voel, dan raak ons makliker speels en selfs bietjie gewaagd. •Terwyl dit Somer is, word die tuin mos ontbos! Wat van sussie? Lanklaas gegaan vir ’n wax? Waag ’n slag om bietjie meer te laat afhaal. Nie noodwendig álles nie, jy kan vir sussie ’n kuifie los! •Koop nuwe, opvallende onderklere - al pas dit nie by enige van jou klere nie. Jy kan dit net koop vir uitlokkende voorspel. Wag in die bed daarmee met bonkige juwele aan. •Laat 'n professionele grimeerkunstenaar vir jou wys hoe om sensueel te grimeer - grimeer dan só om ’n nuwe prentjie in die bed te wees. •.Terwyl jy jou tánde onder hande neem, kan jy gerus net jou broekie en jou stilleto's aanhou - die vooroor gebuk om te spoel, sal hom liries laat! Hoe sexier jy voel..... Begin jou voorspel reeds deur die dag
Bel jou man deur die loop van die dag en vra stadig...in die smeulendste van smeulende stemme...wat hy vir ete wil hê. Laat hom duidelik verstaan dat jy poeding in gedagte het. •Stuur 'n sms soos:"Ek kan nie jou hande uit my gedagtes kry nie - wil mal word as ek dink dat hulle vanaand aan my gaan vat!" Of wees super sexy met: "Ek wil jou vingers vanaand in my mond voel. En daarna kan jy met hulle maak wat jy wil!" Los ’n 'warm' brief in sy aktetas of dagboek. Selfs ’n sexy stukkie onderklere in ’n briewetas, kan hom net dalk nóg vroeër laat huistoe kom! Laastens kan ons gerus onthou dat manne ’n lover, nie ’n mother, wil hê nie. Moenie geluidloos soos ’n lam ter slagting lê tydens seks nie. Sê vir hom as iets lekker is, of as hy spot-on is! Maak ’n geluid of twee. Hy wil weet jy kreun van genot! Is dit nie glorious om te weet dat ál hierdie idees in lyn met God se wil is nie! Mag jy vergeet van die bytjies en die blommetjies....en verander in ’n perdeby met ’n venus-fly-trap!
Ek dien die Here met my hele hart en lewe, maar my man doen nie! Hy sê hy is gered en dat hy die Here op sy eie manier dien, maar ek sien geen vrug in sy lewe nie. Ons baklei só baie daaroor. Ek wil my man so graag op dieselfde page as ek hê, maar sonder heeldag se bakleiery en oortuiging. Mans sukkel dikwels meer as vroue om die Here met krag te dien
Dit mag dalk 'n verskriklike ding wees om kwyt te raak, want daar IS baie mans vir wie Jesus Christus hulle eerste liefde is, maar.... Tradisioneel is dit nou maar een maal só dat vroue makliker hulle harte, gedagtes, trane, tyd en persoonlike geheime met die Here deel. Miskien is dit die hele ding van trots - I'm the man! Pappa is die sterkste en het niemand nodig nie! 'n Verdere rede mag dalk 'n aanklag wees voor die Christendom. Ek dink baie mans dink dis bloot boring om die Here te dien. Hulle kyk vas in die "mag nie, moenie-wette". Hulle sien net te veel opoffering wat saam met die dien van die Here kom - pelle, kuiertyd, rook, sy drankie....en dan moet hy nog saam met jou begin bid! Sjeesh! Begin op die regte plek
Wat ookal die rede is dat jóú man die Here nie met oorgawe dien nie, jy kan die grootste instrument wees in hierdie hele proses. Maar dan moet jy dalk op 'n heel ander plek begin as bloot net bid en glo. Die gesegde lui: "Sometimes we are so heavenly bound, that we are earthly no good!" As jy na 'n honger boemelaar toe gaan en probeer oortuig dat Jesus die Ware Brood van die lewe is, maar jy laat ná om eers fisies vir hom 'n brood te gee, sal sy lyf, gees en kop sukkel om jou te hoor of te glo. Stil eers sy honger, vertel hom dán van Jesus! Net so met jou man. Maak seker dat jy en hy pelle is, sorg vir sy emosionele EN seksuele behoeftes. Kry hom eers op dieselfde page nét met julle verhouding. As hy weet jy líéf hom, koester hom, admire hom, is lús vir hom....is hy onmiddellik meer oop vir jou behoeftes - ook dat hy die Here sal leer ken! 'n Paar moets en moenies
- Moenie jou man manupileer met heiligheid nie - oorlog is ál wat dán vir jou voorlê.
- Moenie God gebruik as wapen nie - "God kan jou nie seën as jy só lewe nie!"
- Moet jou man nie oordeel nie - "Jy kuier te veel. Jy moet jou lewe agtermekaar kry!"
- Moenie jou man probeer vermaak nie - "Ek sal maar met die Here praat en kerk toe gaan - iemand moet!"
- Jou voorbeeld moet jou man wen vir Jesus, nie jou mond nie! Lyk en klink dit great om die Here te dien as mense na jou kyk?
- Wys vir hom hoe vergifnis lyk en klink - sonder om dit terug te verwag!
- Moet hom nie na elke tweede kerk funksie toe probeer sleep, maar steeds weier om deel te wees van sy sosiale lewe nie.
- Verklaar hom as koning - respekteer hom voor die kinders, julle vriende en by die familie!
- Spreek lewe oor hom! Moenie dood en oordeel met jou tong saai nie!
- Eer sy pogings - nie op 'n patronising manier nie, maar genuine!
- Nooi pelle oor wat 'n duidelike balans in hulle lewe het.
- Moenie Christianese voor jou man praat nie - die Here sê..., God wil hê....
- Hou aan glo
Ek het laaaank probeer om Francois te oortuig van God se krag, liefde en Sy Woord. Ek het hom gesmeek (en daaroor baklei) as hy nie saam wou gaan na die dinge van God toe nie. Ek het God en Sy Woord soos 'n wettiese wapen gebruik. Ek het gehuil, gedreig, gedink ek IS beter. Glo my, ek het gesuffer...sonder enige sukses! Toe ek by die basics begin - ons verhouding, my eie voorbeeld, my respek en uiteindelik die Woord as manupilasie-wapen neerlê....wa-la!!! Toe kom Francois by die Here uit! En boy oh boy - hy LIEF die Here én Sy Woord! Die waarheid? Walk by faith, not by sight! Die goeie werk wat God begin het, sal Hy tot voleinding bring! Glo jy dit? Gaan wees lief vir jou man! Gee die oorlog vir God, maar intussen.....basics, sussie, basics!
Dit voel of ek en my man op verskillende planete gebore is as dit kom by kommunikasie. Hy dink ek is oor-emosioneel en maak 'n berg van die kleinste molshopie! Laat ek jou onmiddellik gerus stel - jy's heeltemal reg! Julle ís op verskillende planete gebore as dit kom by kommunikasie. Manne sien probleme baie maklik in swart en wit, terwyl probleme en dié se oplossings in ons briljante, meer gespesialiseerde koppe varieer van charcoal tot 'n heerlike ligte grys. Afhangend natuurlik van ons PMS-vlakke, hetsy ons geliefd of afgeskeep, gewaardeer of geïgnoreer, slank of oorgewig, jeugdig, maar wys, of oud en agter-die-tyd voel. Hoe ons voel, affekteer ALLES! Ek dink een van die grootste uitdagings in die huwelik, is om juis dít wat God verskillend gemaak het in ons, te celebrate en só te leer hanteer, dat dit die beste in ons verhouding uitbring. God het ons vroue met soveel emosie aanmekaar geweef! Ons moet net leer om dit te balanseer..en meer nog....moet ons leer dat in goeie tradisie, baie mans bang is vir emosie of bloot net ongeoefen is. Ek dink nie noodwendig dat mans se méér analitiese, feitelike aanslag béter of meer rég is nie, maar uit emosie alleen kan 'n huwelik óók nie bestaan nie. Meeste manne kla oor dieselfde dinge as dit kom by hul vroue se emosie. Kom ons lees hierdeur en evalueer onsself eerlik. Hierdie is nie 'n beskuldiging nie, net 'n checklist:
- Vroue krop op...en blaas dan op 'n dag af soos 'n stoompot. Praat eerder vroeër as later. As jy opkrop, gaan jy oor-emosioneel wees teen die tyd wat jy afblaas.
- Vroue gebruik dikwels emosie om te manupileer. Raak jy aspris hartseer, of reageer jy aspris seergemaak net om jou sin te kry? Sulk jy net om hom sovêr te kry om te luister of skuldig te pleit. Emosie kom van God af, nie manupilasie nie!
- Vroue wil op die onmoontlikste tye oor die mees emosionele dinge gesels. Met manne is timing of the essence! Moenie oor sake van die hart wil gesels as hy besig is met iets anders of reeds geïrriteerd is nie. Vra vooraf wanneer die beste tyd is om bietjie te chat! Probeer om nie intussen soos 'n oorlogskip in vredestyd na hom te gluur nie. Jy gaan mos jou sê kan sê...net bietjie later!
- Vroue lees te veel daarin as hulle mans nie emosioneel reageer nie. Dít wat manne aan die buitekant wys, is nie noodwendig wat hulle aan die binnekant voel nie. Hy is gemaak om feite te absorbeer en rasioneel te dink oor sy gevoel. Hou op soek vir 'n traan wat wimpel oor sy wang of'n ogie wat jammerlik na jou kyk. As jy lank genoeg gaan demand om te weet hoe hy voel, gaan hy na 'n ruk wel sê - keelvol, moedeloos, geïrriteerd.
- Vroue moan oor een ding, maar bedoel iets anders. Jou man nooi dalk (onverwags) vriende vir aandete - en jy het vis en mash in gedagte (gehad). "Ag, dis Gert-hulle. Hulle sal nie mind nie", verdedig hy. Terwyl jy moan oor die feit dat hulle mash gaan moet eet, gaan die krummel in jou bra dalk eintlik oor die feit dat jy ongerespekteer voel, ongeken in sy besluit. As jy feite en gevoelens gaan verwar, gaan hy nie weet waaroor jy 'n bohaai opskop nie.
- Vrouens hou soms aan om emosioneel te wees al is dinge uitgesorteer. Moet ek meer sê as om jou te herinner aan die wyse woorde van Salomo - 'n druppende kraan...'n dak wat lek.....!
- Vroue raak soms emosioneel oor 'n verkeerde aanname. Ons beplan soms 'n hele oorlog (en wen hom reeds in ons koppe) - en dít gebaseer op aannames. As hy jou aanname verkeerd kan bewys, gaan hy jou 'feitelike' aanname én jou emosie van die tafel afvee. Maak doodseker jou wegtrekpunt (aanname) is korrek!
Ag, ek weet dit klink asof ons altyd alles moet doen om ons manne te akkomodeer. Maar ons is nou maar eenmaal meer aanpasbaar en geskape met 'n natuurlike, diepe begeerte om alles te laat werk! G'n wonder ons is die kroon op God se skepping nie!
Almal beweer altyd dat mans heeldag seks wil he, maar in my geval is dit andersom. Ek en my man het altyd 'n baie goeie sekslewe gehad, maar deesdae is HY altyd die een met die hoofpyn en chroniese moegheid! Moet ek bekommerd wees? Wat beteken dit en wat moet ek daarvan maak? Daar is 'n zillion vroue wat sal juig as hulle mans hierdie spesifieke probleem sou hê! Party vroue sal selfs bereid wees om uit te ruil as hulle net vir een aand rustig aan die slaap kan raak sonder die stem in die donker wat vra: "Slaap jy...?" Maar nou ja, dis húlle! Ek glo dat jou tipe probleem soveel emosie by 'n vrou kan ontlok - verwerping, frustrasie, 'n twyfelagtigheid in 'n man se liefde....selfs kommer? Alhoewel elke huwelik uniek is en die onderliggende rede van só iets nie by almal dieselfde gaan wees nie, is daar tog algemene dinge wat ons kan oorweeg: Jou man is nie 'n klip nie
Stres het 'n geweldige negatiewe invloed op mans se seksdrang. En die manne (spesifiek blanke, afrikaanse mans) leef deesdae onder geweldig baie stres. Daar is die chroniese swaard van affirmative action wat oor hulle koppe hang, saam met die stygende petrolprys, inflasie en algemene lewenskoste! Mans voel baie maklik asof hulle failures is as hulle nie kan voorsien nie. Die tradisie van "Cowboys don't cry" veroorsaak ook baie maal dat hulle stres en emosie opkrop. Dit beteken egter nie dat dit nie daar is nie! Wat kan jy doen? Invest genoeg in jou emosionele verhouding met jou man dat hy veilig genoeg sal voel om oop te maak. Moet hom nie kritiseer of aanvat nie - ondersteun hom en bewys in die klein dingetjies dat jy deel van sy span is! Die spens is nou in die pens
Mans se fisieke toestand hou 'n direkte verband met hulle seksuele prestasie. Oorgewig mans sukkel meer met hulle hormone en ereksies as hulle in-shape boetas. Vetweefsel om die maag lol maklik met 'n man testosteroon - die hormoon wat hy nodig het vir gesonde libido en ereksies. En 'n man wat sukkel met 'n ereksie gaan noodwéndig probeer wegskram van seks. Sy manwees en sy ego is immers op die spel! Dis nou maar eenmaal 'n feit dat mans nie maklik oopmaak oor ereksie-probleme nie. Pappa is tuff en hard gebore, onthou jy? Wat staan jou te doen? Kry hom met iets exciting van die sitkamerbank af (nee, nie seks nie!). Vat vir woef om die blok om pappa se seks te lok! Dit moet iets wees wat jou man sal geniet en waarmee hy nie bedreig gaan voel nie. Pas ook julle huis se dieet aan na gesonde kos wat sy magie gaan laat wegsmelt. Moet hom nou nie op blaarslaai martel nie...baby-steps! Die gras aan die anderkant van die draad
Eish, die lastige tannies met die tieties! As 'n man pornografie kyk, gaan dit 'n defnitiewe effek hê op sy verhouding met sy vrou. Aanvanklik kan dit sy seksdrang aanwakker, maar in die long run (veral as dit gepaardgaan met masturbasie), kan hy begin retreat in sy eie wêreld in. Die fantasieë wat hy het, maak dit miskien ook moeilik om fisiek aangetrokke te voel teenoor sy vrou. Ons moet onthou dat mans baie visueel ingestel is en altyd hou van avontuur. Vraag is: Hoe mooi kyk jy na jouself? Is jy bereid om bietjie avontuurlustig te wees saam met jou man? Selfs die couple in Hooglied het seks gehad buite in die veld! Jy kán hemelse avontuur en plesier hê sónder seks-toys en pornografie. Komaan, wees kreatief! Dink bietjie uit die box uit! Te veel vroue dink dat seks vir mans suiwer 'n fisieke ding is. Die waarheid? Hulle wil graag hulle manwees validate by ons. Hulle soek responsive partners in die slaapkamer, 'n versorgde prentjie asook respek en eer vir die koning. As jy regtig weet jy bring jou kant hiermee, is stres, moegheid en fisieke probleme die ding wat gaan aandag verg. God het seks ge-invent sodat ons emosionele vervulling, geestelike eenheid en fisieke bevrediging kan ervaar. Vra Hom om jou die strategie te wys!
Ek vermoed my man is ontrou aan my, maar ek weet nie of ek my verbeel nie. Ek het hom lief en wil hom nie verloor nie! Ek voel so magteloos en die seer lê my heeltemal lam! Moet ek hom konfronteer? Ons het pragtige kinders en ek wil nie net skei nie. Is daar hoop as ek byna seker is van sy ontrouheid? Help asseblief! Oeeee, my hart gaan uit na jou toe! Is daar enige iets ergers in die huwelik as om te twyfel oor jou maat se liefde en sy trouheid! Om alles met suspisie te bekyk, te soek vir die bewys dat sy liefde (of sy lyf) nie aan jou alleen behoort nie en tog...om enige van sy mooi woorde en liefdevolle blikke soos krummels van die tafel af te gryp...met die hoop, dat jou vermoedens verkeerd is of was. Dit wat in jou binneste krap, lê my so na aan die hart omdat dit ook een van die groot sere was in my huwelik. Maar, met die lang pad na genesing het ek wonderlike openbaring gekry wat ek hopelik vandag vir jou kan gee - om ook vandag reeds op jou pad van terugbaklei en genesing te begin stap. En ja, ek bedoel TERUGBAKLEI! Nie mét jou man nie, maar vìr hom. Waarom is mans ontrou?
Menige vrou wat hierdie vraag gaan probeer antwoord (veral die verbitterde soort) gaan onmiddellik iets sê soos: Want mans se "goed" pla hulle! Die waarheid is egter dat meeste mans nie noodwendig ontrou is ter wille van seks nie. Dit gaan in meeste gevalle nie vir mans oor hóé hulle oor die ander vrou voel nie, maar wel oor hóé die ander vrou hùlle laat voel. Hierdie is genuine die kern van meeste ontrouheid - so lees die vorige sin weer!!! Nie net lê die kern van meeste mans se ontrouheid hierin nie, maar ook die geheim van wat jou te doen staan. Het jy dalk 'n aandeel?
As ek terugdink aan die pad wat ek en Francois gestap het, onthou ek maar te goed dat herstel vir my onmoontlik geklink het. En allermins was ek op 'n plek in my lewe dat ek wou aanvaar dat ek enigsens 'n aandeel in sy ontrouheid gehad het. Maar die harde realiteit was dat iemand anders my man laat voel het soos 'n koning. Ja, by haar het hy begeerlik en belangrik gevoel. Sy kon hom laat blom met haar komplimente en woorde wat sê: Ek kan nie genoeg van jou kry nie! Maar ek? Ek het hom in die aande in my japon ontvang. Ek het hom gedurig gewys op sy foute. Heeldag gekerm dat hy laat by die huis kom. Ek het hom gechallenge voor die kinders...en selfs voor ander mense. Verstaan my mooi, nie een van hierdie dinge is 'n goed genoeg verskoning vir enige iemand om ontrou te mag wees nie, maar die harde realiteit is....my optrede was tog deel van die oorsaak. Bes moontlik laat jou man jou ook nie altyd (dalk nooit) soos 'n koninging voel nie. En dis nie asof jy 'n verhouding sal aanknoop net daaroor nie, reg? Die vraag is: Wil jy sulk, of wil jy iets doen daaraan? Wil jy die victim wees...of die soete smaak van victory hê? Die pad is nie noodwendig maklik nie, maar deur en deur die moeite werd! Vra my! Hoe om te baklei vir dit wat jóúne is!
- * Moet hom nie heeldag konfronteer oor sy doen en late nie (ek weet jy't die reg om te weet, maar wil jy hom so graag verder in iemand anders se arms indryf?)
- * Maak jouself mooi vir hom - genuine mooi! Onderklere, lipstiffie, lekker ruik....
- * Hy moet eerste kom in jou prioriteitslysie, dan die kinders!! (nogal tough, ek weet)
- * Stel belang in sy werk en sy stokperdjies. Boost hom, boost hom, boost hom!!!!!
- * Inisieer seks van jou kant af - ja toe, toe... jy kan!
- * Vra jouself of is daar omstandighede by die huis waarvan hy dalk wil vlug? Werk daaraan!
- * Mans wil nie net die man van die huis wees nie, maar het nodig om te weet dat hul vrouens dink (en dit uitspreek dat) hulle mans genoeg is. Gaan dink oor hierdie ding. Hierdie is 'n groot waarheid, vra enige man!
As jy nog sukkel met hierdie aksieplan, doen intussen die beste ding ooit. Vra die Heilige Gees om jou man op te pas en te beskerm. En claim jou man en jou huwelik in Jesus se Naam!
Seks voel regtig vir my soos werk! Ek het my man nog NOOIT seks geweier nie, maar dit lyk nie of dit vir hom genoeg is nie. Wat meer moet 'n vrou doen as om beskikbaar te wees? Ek wil nie hê my man moet op die ou end rondkyk nie!
Ai, die lus-spesie versus die moeg-spesie. Om die heeldag te werk, vanaand te moet kos maak, kinders se huiswerk na te gaan (eintlik dóén), PMS te probeer beheer én dan ná nege in Nurse Betsy te moet verander, is erg, ek weet! Maar, omdat ek 'n aardsoptimis is, wil ek jou vra om eerstens 'n bietjie te rejoice oor die feit dat jou mán nie die moeë een is en jy die lús een nie. Fisiologies het ons dan met 'n probleem gesit - spreekwoordelik 'n marshmallow in 'n munt-bussie-probleem! Wat 'n frustrasie! Nadat ek en my man, Francois, tot bekering gekom het en die hele storie van owerspel en pornografie op die lappe gekom het, was seks vir my aanvanklik regtig 'n wilsbesluit. Ek het besef dat die satan deur seks steel in baie huwelike en het net eenvoudig besluit - lus of te nie, die satan sal nie weer by my wen nie! Maar jy sien, as jy altyd net 'bereid' is, maar seks aanpak soos 'n lam ter slagting, gaan jou man áltyd voel jy doen te min! En dan steel ou puntstert weer deur dít wat Goddelik is, in 'n frustrasie en bakleiery te verander. Om net bereid te wees is dus nie genoeg nie - manne soek iets anders! Om weer bietjie 'n spark (of 'n bosbrand) terug te sit in jou sekslewe, moet jy begin om jou man anders te benader deur te weet wat hom laat tick!
- Manne soek 'n prentjie. Dit wat hulle sien, moet hulle visueel uitdaag. Hulle soek 'n njammie prentjie! Nee, moenie dat die satan nou van jou steel sodat jy moet glo ek praat van jou lyf se shape nie (onthou, 'n sirkel is in elk geval ook 'n shape). Ek wil weet of is daar iets va-va-vuums aan jou voorkoms? Dra jy nog sexy onderklere, of het jou vleeskleur nommers die oorhand in jou laai? Pappa sien ook die ou mooi goedjies in die catalogues raak, né! Gaan jy net Desembers vir 'n bikini-wax en die res van die jaar is jul weed-eater deel van jul voorspel? Sluip jy soos die gemaskerde sopbeen in die donker rond? Waar's die lig - hy wil kan sien! En onthou - as 'n vrou sexy voel vir haarself, sien sy gewoonlik kans vir meer!
- Manne wil wanted (desired) voel. Maak 'n kopskuif om speels te raak wanneer jy met jou man praat. Hy wil voel asof jy nie jou hande van hom kan afhou nie. Inisieer seks van jou kant af - al is dit net met die manier wat jy praat! Lawwe voorbeeld: As jou man in sy overall ingestap kom - vuil en natgesweet - vra bietjie: "Mr. Mechanic, jy dink nie dalk mamma het ook 'n diens nodig nie? Of as jou man al 'n gryskop is, vryf bietjie oor sy kop en vra: "As daar soveel sneeu op die dak is, hoop ek daar's 'n kaggel wat brand -grrr!" Laat voel hom soos die mees begeerlike man op aarde!
- Manne hou van avontuur. As seks in jou kop 'n wérk is, sal jy dit nooit geniet nie. Gaan herontdek jou speelse kant. Knip jou flennies strategies twee gate in, flash vir hom as hy grassny, stort onverwags saam met hom. Baie vroue getuig daarvan dat hulle seks opnuut weer begin geniet het nadat hulle besluit het om van hulle kant af avontuurlustig te raak. Nie moeg geploeg, maar met idees vir pret in die bed!
As jy begin om van jou kant af uit te sien na seks, iets te doen wat jou gaan laat begeerlik voel en sommer speels te raak, gaan jy jou grootste seksorgaan - jou brein - 'n brandstof-inspuiting gee. Dis dalk ál wat jy nodig het, Nurse Betsy!
Ek is 'n dinamiese vrou met 'n sterk persoonlikheid. Hoe kan ek onderdanig wees sonder om my persoonlikheid te compromise? God is mal oor dinamiese vroue. Dis juis sulke vroue wat kragtig deur Hom gebruik word! Jou worsteling is dalk vanweë 'n tipiese tradisionele siening van onderdanigheid. Tradisie bepaal dat meeste vrouens voel asof hulle met hoofseuns (in plaas van hoofde) getroud is - en dat ons skonere geslag slegs die titel van skolierpatrollie gekry het. Die skolierpatrollie (vroue) voel soms asof hulle net goed genoeg is om die kinders oor die pad te sien (versorg), die verkeer in die huis vlot te laat verloop (vrede te bewaar) en so nou en dan moet lê vir 'n vergadering (eerste ding op hoofseun se agenda). Ons moet besef dat mans ook dikwels vasgevang is in tradisie oor hoofdyskap. Meeste van hulle het grootgeword om hulleself te bewys met geld (werk), mag (en krag) en seks. En hulle sal hul idees én regte daarondom, verdedig met mening. Ek wil jou vandag uitdaag om strategies te raak oor jou man se hoofdyskap. Kroon hom as koning in jou huis en pluk die soete vrugte om behandel te word soos 'n koningin. Voor jy sug, suster, luister hierna! Toe ek en my man, Francois, op die rand van egskeiding gestaan het, het my ma my die heeldag herinner dat ek die kroon op sy kop moet hou. Ek het goed getantrum en 'n duisend verskonings gehad. Ek het immers die seer pad van pornografie, owerspel (en soms hardhandigheid ook) met my man gestap! Ek wou op 'n berg gaan staan en skree: "Hoekom moet ek submit aan iemand wat nie eers die Here dien nie en defnitief nie Jesus se liefde aan my betoon nie? En hoekom moet ek sag wees as God die Een is wat my sterk gemaak het!" Jy kan dalk goed identifiseer met hierdie gevoel. Maar my uitdaging staan: As jy vandag bereid is om in te koop in 'n paar basiese planne, is jy net dalk op die ou end gebless met 'n veranderde man (soos my Francois) wat jou opinie hoog ag en trots is op jou sterk persoonlikheid. 'n Paar strategiese tips vir wanneer die hoofseun sukkel met hoofdyskap:
- Verdedig sy koningskap wanneer ander mense van hom sleg praat. Weier om self van hom te skinder! (Oeee, die versoeking!)
- Hanteer konflik anders! As jy (terug) aanval, gaan die koning terugval in tradisie - die laaste sê!
- Onthou sy ego! Waardeer sy geld (werk), bevestig en bewonder sy krag en laat voel hom desirable (jou eie persoonlike Brad Pitt!)
- Moenie 'n alliansie teen hom vorm saam met die kinders nie. (Don't we love doing that!)
- 'n Gevoel van minderwaardigheid, sal met meerderwaardigheid verdedig word. Moet dus nooit sy eer aanvat, hom onbevoeg of belaglik laat klink nie. Selfs al is julle alleen.
- Moet hom nie probeer manipuleer om beheer te kry nie. (Ons vroue se siekte!)
- Herstel die seer van sy kinderjare wat sy manwees-persepsies gevorm het. As hy grootgeword het met kritiek, weier om hom te kritiseer. Moes hy as kind altyd iets bereik om erkenning te kry? Eer dan selfs sy mislukkings. Het hy 'n pa gehad wat nie belanggestel het in hom nie? Gooi hom dan toe met aandag.
Gaan dink 'n bietjie na oor hierdie strategie. Tall order? Onthou dat dit 'n baie sterk en dinamiese vrou neem om 'n man in koningskap in te bid en teen al die odds in vas te hou aan 'n Goddelike strategie. Lê neer jou wapen, maar bly sterk! God is mal daaroor! Viva, die skolierpatrollie!
My man het onlangs uitgekom met 'n waarheid wat my stukkend gelaat het - 'n buite-egtelike verhouding! Teen alle raad in, het ek gekies om by hom te bly. Ek weet nie hoe om hierdie pad te loop nie, maar loop, wil ek hom loop...net op die beste manier moontlik. Is daar 'n regte manier?
Ek dink God het geweet hoe seer die pad van owerspel is - daarom die 'uitsluitsel' in sy Woord rakende egskeiding. Maar wanneer 'n vrou haar 'reg' om te skei, neerlê, om te vergewe én haarself boonop bereid te verklaar om die pad saam met haar man te bly stap, gebeur daar iets eenvoudig ongelooflik! Ek eer jou! Moenie die wiel herontwerp nie
Omdat ek sélf hierdie pad gestap het, wil ek graag joune vir jou makliker maak met dít wat ek geleer het:
* Mense gaan in hierdie tyd baie dinge kwytraak. Sommiges gaan jou veroordeel, maar die meeste oordeel gaan na jou man toe gaan. Jy't gekies om by jou man te staan, doen dit nou voluit! As ander vir jou vertel dat 'sulke mans' nooit verander nie....weier om hulle te glo...spreek geloof uit! Jy KAN jou man vertrou. Hy staan skoner voor God as meeste mans daarbuite..."Die WAARHEID sal jou vrymaak"!
* Logika gaan jou probeer oortuig dat jy finale closure sal kry as jy al die detail weet. DIT IS "N LEUEN! Glo my, dis die fyn detail wat jou op die ou end haunt! Jy sien later prentjies en kom eenvoudig nie weg van al die memories af nie. Detail kan nie vir jou vrede bring nie, net God en die nuwe verhouding met jou man, kan!
* As jy seer het, gaan op jou knieë, en vertel die Here daarvan. Mense gee simpatie vir verkeerde redes. Ek weet (glo my, ek doen) dat jy op jou seer dae voel asof jy net die support van iemand naby aan jou, nodig het. Ek het destyds 'n reëling met Francois gehad, dat ek op sulke dae kon vra dat hy my net moet vashou. Geen vrae, geen skuldige oomblikke nie, net 'n vashou en versekering van sy liefde.
* In oomblikke van baklei kan dit so maklik gebeur dat jy jou man se egbreuk wil gebruik as 'n slaanstok. Moenie die satan se werk namens hom doen nie. As jy jou man kort-kort (met elke rusie) herinner aan dit wat hy gedoen het, kan géén woorde ná die tyd daardie oomblik uitvee nie. So don't even go there!
* Jy moet die ander vrou(e) ook vergewe en vryspreek. As dit iemand is wat jy ken of kan opspoor, moet jy dit sommer persoonlik doen. As jou man kan saamgaan....WOW! Moenie wag totdat jy emosionele vrede met daardie vrou gemaak het nie - jy gaan laaaank wag! Jy vergewe haar omdat God dit van jou vra...PUNT! Dis nie 'n emosie nie, dis 'n keuse! Moenie bang wees vir daardie oomblik nie. Dis jou oomblik van victory! As jy haar nie wil face nie, bel haar! Hou dit kort, eenvoudig, maar kragtig. "Ek weet van jou en my man. Hy't my alles vertel. Ek bel om jou te vergewe en vry te spreek. En om te sê, ek claim my man terug vir myself!" Bly weg van slegsê en sarkasme. Sy moet weet wat se ongelooflike vrou jy is.
'n Nuwe begin....vir 'n sterker JY!
Werk aktief aan jou emosionele én fisieke verhouding met jou man. Gee baby-steps in jou gesondword proses. God weet jy is nie 'n robot nie. Wat Hy wel weet? Jy is 'n ystervrou wat iets kon doen wat baie min mense daarbuite kan indink om reg te kry! Die waardevolste ding wat jy egter moet onthou? In 90% van alle buite-egtelike verhoudinge gaan dit nie oor wát jou man vir die ander vrou gevoel het nie, maar hóé hy BY haar gevoel het. Maak seker hy voel van nou af só....by jóú!
Ek het my man betrap waar hy op internet pornografie kyk. Ek voel ontugter, kwaad, hartseer, geskok...eintlik verward oor wát om te voel en wát om te dóén. Hy het allerhande verskonings gehad, maar ek vermoed al lankal dat hy dit kyk. Hy is 'n kind van die Here! Hoekom doen hy dit?
Daar is min dinge wat soveel verwerping en verwoesting in 'n huwelik veroorsaak as pornografie. Duisende mense (selfs christene) probeer pornografie regverdig, maar miljoene huwelike word daardeur vernietig.
Ongeag die spesifieke omstandighede of huwelik, voel alle vroue op jou pad verraai, verwerp, nie mooi genoeg nie, emosioneel uitgelewer en onveilig in hulle huwelike. Die allerbelangrikste ding wat jy egter moet hoor, is dat JY nie die probleem is nie - jy het bloot 'n man mét 'n probleem! Hoekom kyk mans pornografie?
Dit het vir my persoonlik baie genesing gebring toe ek net eers die "Hoekom kyk my man pornografie?-vraag" kon beantwoord.
* Duisende mans is as jong seuns blootgestel aan pornografie - hetsy deur molestering, media, maats.....en het nooit daarmee gedeal nie. 'n Gees van wellus (lust) het dalk al lankal sy houvas op jou man, het lank dormant gelê en nou begin om te manifesteer! Lust word nooit versadig nie en soek altyd na die groter kos!
* Soveel mans strompel oor pornografie by hul werkplek (rekenaars), of raak vasgevang deur die kaal vroue in selfs onskuldige "gesondheids tydskrifte vir mans". Ek dink nie ons vroue besef hoe visueel mans werklik ingestel is nie. As 'n man se vleeslike begeertes nie ondergeskik staan aan 'n geesvervulde lewe nie, sal die geringste aanraking en ontmoeting met 'n visuele trigger sy manwees en lewe begin roer!
* Miljoene mans ervaar mislukking by hulle vroue. Hulle voel onbekwaam, onbevoeg...bloot nie mans genoeg nie! Maar, met pornografie voel sulke mans dikwels beter oor hulleself (vir die oomblik) omdat hulle nie hoef te presteer nie. Só kan 'n man nie faal nie en hoef hy nie te vrees dat dít wat hy kan bied, te min is nie. Die vroue in pornografie judge hom nie. Dit in gedagte, maak dit sin dat baie sulke mans wegskram van seks met hul eie vroue!
Wat doen pornografie aan christen mans?
· 'n Vasgevangde man hardloop weg van God, omdat hy aangekla en skuldig voel. Hy kruip weg soos 'n kind wat weet dat sy pa gaan raas oor wat hy aangevang het. Dit bring mee dat hy later nie meer die stem van God hoor nie. Hy word a man on the run!
· Seks met sy eie vrou word meer fisies van aard, waar die emosionele konneksie afgeskeep word. 'n Bakleiery daaroor word maklik die volgende verskoning in sy eie kop om homself eerder besig te hou met konfrontasielose seks!
· Hy voel fake voor sy kinders en vrou, omdat hy moreel probeer lewe voor hulle. Hy moet 'n front voorhou dat hy 'n kind van die Here is, maar lei in sy hart 'n dubbel lewe.
· Hy vlug weg van christen vriende en die kerk, wil nie Bybel lees nie, nie oor die Here met jou praat nie, tree dikwels aggressief en geïrriteerd op......alles omdat hy vasgevang voel. As hy sy probleem voor die Here neerlê en wéér pornografie kyk, voel hy nóg meer soos 'n mislukking en 'n fake. Hy onttrek meer, vlug in sy eie wêreld in en plaas die blaam van huweliksprobleme voor sy vrou se deur, juis omdat hy nie kan bekostig om sy skuld te erken nie.....bose kringloop. Waar kan jy begin?
* Besef dat jy deel is van God se genesingsplan vir jou man! * Maak seker jou man voel mans genoeg by jou - emosioneel, geestelik én fisies -al verdien hy dit nie! * Word 'n instrument van genade, liefde en geen judgement. Trust me, jou man WIL graag loskom, maar hy het jou (silent) ondersteuning nodig! * Moenie emosioneel te veel druk op hom plaas in die slaapkamer nie. * Moenie jou man peper met wat God van hom verwag nie. Op die ou end hardloop hy weg van jou én God af! * Jou geveg is nie teen jou man se vlees en bloed nie. Maak seker jy vuur die kanonne in die regte rigting! * BID.....BID....BID, sonder ophou!
PS. As my man kon loskom, kan joune ook!
My man is getroud met sy werk en sy pêlle - of so voel dit vir my! Dit veroorsaak hewige rusies in ons huis. Ek wil darem net weet ek is nog 'n prioriteit! Ag, ek wens ons kan net weer hê wat ons in die begin gehad het!
Dis vir my so hartseer om te sien dat al hoe meer huwelike hulle joy na 'n ruk verloor. Ons verleer om mekaar se pêlle te wees, saam te lag en vurig te vry.....sonder seks as target! Ons kom so maklik op 'n punt dat ons soos oorlogskepe in vredestyd verby mekaar vaar. Ons kommunikeer mostly oor wie die brood gaan koop, wie die kids gaan oplaai, vrydagaand se braai reëlings, die kinders se probleme en ander mense se issues. Daarmee saam, gaan sommige van ons bietjies-bietjies dood aan die binnekant en begin wegvlug na ons werkplek, na ons vriende(inne), ons stokperdjies en na ander passies in die lewe.
Ons vroue moet besef dat mans soms vir hul werk en pêlle begin leef soos wat ons dikwels vir ons kinders en ons vroue-groepies begin leef. ('n klippie in jou skoen....leef jy méér vir jou kinders as vir jou man....?) Die belangrikste ding wat ons moet probeer bepaal, is nie óf ons met tyd ons passie vir mekaar verloor nie, maar hóékom! Kom ek wys jou wat sê die manne wie se werk en pêlle hulle passie is, sélf:
•By my pêlle kan ek net relax, net be! My huis voel vir my soos 'n projek wat nooit tot 'n oplossing kom nie. As ek daar instap, is daar die een of ander issue. •Niks wat ek ooit bygedra het tot die huishouding (of probeer het) was goed genoeg nie. By my werk word ek immers raakgesien en waardeer. •My vrou probeer my die heeldag coach hoe ek die kinders behoort te hanteer. Sy vat my aan voor die kinders en gather hulle soos moederhen onder haar vlerk elke keer as ek te streng was volgens haar. •Ek moet smeek vir seks soos 'n honger hondjie, maar moet heeldag hoor ek sien nie haar behoeftes raak nie. Ek gaan ontlaai maar liewer emosioneel op die golfbaan saam my pêlle. •My lessenaar by die werk is immers netjies en agtermekaar. My vrou is nie juis sterk op die hele versorgingsding nie. In fact, ons huis is ALTYD deurmekaar en ons eet gewoonlik eers ná agt in die aand. Dis nie dat ek NIKS doen vir ons gesin nie. Ek doen al die manne-goed, maar my vrou....? •My vrou was altyd my beste pêl. Ons het saam uitgegaan en tot laat uitgebly. Sy was bereid om klomp fun goed saam met my te doen. Dis net asof sy haar fun-element verloor het. Sy's so ernstig oor alles, heeldag net gepla met die kinders, sê sy's te oud vir adventure. Ek is regtig lief vir haar, maar die waarheid? Dis plain boring saam met haar.
Okay, okay, ek dink ook dis genoeg! Ek wil jou challenge. Lees weer deur die lysie en evalueer jouself sonder om jouself te verdedig en te dink wat jy alles KAN terugsê vir en ván jou man. Onthou, die enigste plek waar mense score hou, is waar TWEE spanne betrokke is...opponente! Ons moet leer om soos staatmaker rugbyspelers soms bereid te wees om die bal te pass - ter wille van die drie, ter wille van wen, ter wille van die span. Gaan kyk gerus waar jy dalk skuldig is. Pass die bal! Doen iets vir jou span! Katrol vir pappa in soos 'n wafferse visservrou. Word sy pêl, vry hom onverwags, laat voel hom soos die koning, versorg hom (ja, toe!), maak hom 'n prioriteit bó die kinders, eer en waardeer sy pa-wees, relax net soms! Ag, the list is endless!
Soek jy genuine die vis by die huis? Kry die regte aas / ass (he-he, net 'n grappie, maar wie weet!) Katrol, sussie, katrol!
My verhouding (of eerder gebrek daaraan) met my skoonma is verby die punt dat ek kwaad word. Ek voel regtig seergemaak deur haar optrede en kritiek teenoor my. En die ergste van alles is die feit dat my man altyd opkom vir haar. Haar inmengery maak my gek! Waar begin ek, behalwe moord?
Ek kan nie help om heel eerste te dink aan al die grappies oor skoonma's en die stereotipes wat ons so maklik in geselskap bespreek nie. Maar die eerlike waarheid is dat die grappies eintlik net 'n masker is om die vreeslik baie seer, woede en frustrasies te bedek wat alive and well is in menige skoonma-skoondogter verhoudinge. Ek wonder dikwels of ma's wat sukkel om hulle seuns los te skeur van die bors (party klou so vervaard, dis 'n wonderwerk dat hulle nie met melkkoors opgesaal sit nie) al ooit gehoor het van: "Die man verlaat sy ouers ... en kleef sy vrou aan!" Eintlik so eenvoudig.
Aards-opportunis (ja, optimis ook) wat ek is, wil ek graag jou skrywe gebruik om ook met die ma's te praat. Maak dus seker jy koop 'n kopie van die Finesse vir jou skoonma.....wie weet? Wat gemaak met jou man?
Moet nooit dom genoeg wees om jou skoonma aan te vat voor jou man nie. Bloed bly dikker as water! Praat daaroor as julle alleen is en julle 'n goeie oomblik het. Moet hom nooit tromp-op beskuldig nie. Manne wat aangevat voel, reageer nooit soos wat ons vroue daarvan hou nie. Vermy ultimatums - ons weet mos manne hou nie daarvan nie! Laat hom van die begin af verstaan dat jy nie wil hê dat hy tussen julle moet kies nie, maar dat jy bloot sy ondersteuning as man nodig het. Eintlik gaan alles oor jou woordkeuse. Vergelyk gerus: Jy kom nooit vir my op nie teenoor Ek het jou nodig om my soos die koningin te laat voel. Wat van: Jy vat altyd jou ma se kant teenoor Dit voel soms vir my of jou ma se opinie meer werd is as myne. Kan ek jou vra om dit te doen as sy dat doen? En boul die koning uit deur te vra hoe hy dink jy die situasie moet hanteer. Laat hom besef hoe graag jy wil hê sy ma moet trots wees op sy keuse. Jy kan beheer neem met skoonma!
Sien jou skoonma vir wie en wat sy eintlik is. 'n Ma wat voel sy het beheer verloor. Iemand wat bedreig voel deur jou vrouwees en daarwees. As jy jouself werklik in haar skoene van onsekerheid kan indink, sal dit makliker wees om genadig te wees teenoor haar. Moenie aspris wees in jou keuses nie - let it sometimes just be! Vang haar onkant deur goed te wees vir haar. Laat haar belangrik voel voor jou kinders. Spreek onverwags waardering uit. Geheim bly - wen jou skoonma...en jy wen onverwags 'n nuwe komponent van jou man! Skoonma, is jy skuldig?
Natuurlik is min skoonma's openlik afgunstig en venynig. Dié wat kwalifiseer as skoonmonsters gee eerder klein stekies wat vir buitestaanders na opregte raad kan klink. Kyk of jy kwalifiseer! Voel jy geïrriteerd as jou seun iets mooi van sy vrou sê? Het jy 'n onkeerbare drang (wat jy met moeite moet beheer) om jouself daarmee te vergelyk? Kan jy nie help om krities na haar huis te kyk en dan te graag te vertel hoe mooi jou eíe dogter nou haar sitkamer verander het nie? Probeer jy om meer gewild te wees by jou kleinkinders as wat mamma is? Deel jy geheimpies met jou seun terwyl jy (natuurlik nie doelbewus nie) jou skoondogter uitsluit uit julle gesprek? Twee klippies (of rotse) wat ek graag in jou skoen wil los -
Die verwerping van jou skoondogter, is eintlik die diepste vorm van verwerping van jou seun se keuses. Daarmee kan jou lammetjie dalk voel dat jy nie geloof het in sy manwees nie. En wat die chroniese klein stekies betref.....'n gedagte. The only way to hide my own insecurity, is to expose yours!
Aan al die opregte en nice skoonma's daarbuite - soos my eie - thanks! Julle maak dat ons nog liewer is vir julle seuns!
Ek is getroud en in my middel dertigs. Alhoewel ek en my man ’n goeie sekslewe het, het hy gereeld fantasieë wat my ongemaklik laat voel. My vraag rondom die seksuele - waar trek ’n mens die streep rondom speel en avontuur?
Elke paartjie het die reg om fantastiese seks te geniet, mekaar se liggame te koester, te ontdek en eindelik die gawe van 'n orgasme te geniet. Daar word selfs in Hooglied geskryf van die bruidspaar wat seks geniet het in die buitelug. Jip, die twee het mekaar geklits in die gras - miskien is dit waar die woord klitsgras vandaan kom? In enige verhouding is daar egter grense. Elke paartjie leer mettertyd waar die grense is wat elkeen gemaklik laat voel. Avontuur of aanvaarbaar
Die Griekse stamwoord vir seks buite die huwelik, is porneia! Toeval? Daar is baie mense wat voel dat pornografie deel kan wees van opkikkering en avontuur - solank dit binne die huwelik bly. Die waarheid? Pornografie is visuele, wellustige seks buite jou huwelik wat vroue verwerp laat voel omdat hulle manne gestimuleer word deur ander vroue. Is dit God? Ingang of uitgang
Defnitief verbode terrein! Sou dit nie wonderlik gewees het as ons 'n handleiding gehad het wat kon sê - Entrance (vagina) en Exit (anus). Of selfs ’n beeper wat kon afgaan en basuin - "You are going the wrong way - exit only!" Nee wat, as anale seks natuurlik was, sou ons sekerlik nie siektes kon kry deur dit nét in ons huwelike te beoefen nie. Vroue sou dit dan óók nie so gevrees het, vuil gevoel het of so seer gekry het nie. Hoekom het mans dikwels 'n fantasie hieroor? Pornografie! Jy mág NEE sê hiervoor sonder enige skuldgevoelens. Moenie toegee uit vrees dat hy dit dan op ’n ander plek sal soek nie. Bid daaroor en sit ander avonture op die tafel. Speelgoed vs manlief
Daar is ’n verskil tussen prettige hulpmiddele soos byvoorbeeld vere, olies en bodypaint, en hulpmiddele wat jou man se penis kan vervang. Dit maak ’n vrou dalk liries van lus, maar wellus word meer as dikwels by die manne gebore. En met die eerste ernstige emosionele insinking in julle verhouding word dié elektroniese toestelletjie baie maklik 'n wapen! Jou man se penis kan nie meeding met elektronika nie - hy kan eenvoudig nie teen daardie intensiteit bewe nie - tensy hy kouekoors het in die penis (grappie).Die skielike afwesigheid van die elektroniese speelding kan die vrou frustreer, terwyl die teenwoordigheid daarvan die man onbevoeg kan laat voel as hy besef dat hy nie die eerste plek in die bevredigingskompetisie behaal het nie. Hoekom is mans dan opgewonde by die aankoop en aanvanklike gebruik daarvan? ’n Sense of adventure en hartsbegeerte om hul vroue mal te maak van bevrediging! Orgasme vir twee
Solank orale seks en wedersydse masturbasie in balans bly en nie soos 'n chroniese siekte word nie, kan jy maar groot gaan - solank albei gemaklik voel daarmee. Daar is duisende vroue wat nét op dié maniere bevrediging kry. Individuele masturbasie? As dit regtig in God se wil was, sou ons heilige gedagtes kon hê daartydens en sou ons dit nie weggesteek het vir ons maats nie. Ek glo nie dat God ooit alleen bevrediging in gedagte gehad nie. Orgasme is 'n verbondsgawe. Punt!
Grense dwing ons nie net om kreatief te wees nie, dit hou ons seks glorious EN geseënd! Gaan groot!
In die hart van 'n getroude man
deur Gretha Wiid
Manne lag tevrede as vroue die oer-oue wysheid kwytraak van boys will be boys...! Asof hulle diep binne-in weet dat vroue nooit presies sal weet hóé lewendig die jong man in hulle is nie. Lewendig met lyflike begeertes en hartsbehoeftes - wat brand om raakgesien en bevredig te word! Die oerdrange van 'n man se lyf is bekend en maklik, maar binne die lyf is daar 'n hart wat brand vir dieper dinge. Dinge soos.....
Bewondering - Met elke kyk wat 'n man by sy vrou kry, wil hy weet sy is trots op hom en dat hy die bekwaamheidstoets geslaag het. Erkenning in die openbaar, veral tussen sy vriende en familie, laat hom met krag om 'n bende te storm vir haar. Manne kan nog klaarkom sonder seks, maar sonder respek en erkenning van die vrou in sy lewe, gaan hy dood van binne! Die groot geheim? Waardering vir 'n vrou, kweek bewondering vir 'n man!
Vertroeteling aan die seuntjie binne hom - Manne swyg soms oor hul diepste seer, vrese en drome by hulle vroue omdat hulle sterk en in beheer wil voorkom. Soos klein seuntjies, weerhou trots hulle dikwels om hart oop te maak by hul geliefdes. En tog begeer hulle om emosioneel geanker te voel met die liefde van hulle maats. Lê neer jou trots en deel 'n stukkie van die onseker seuntjie! Só laat jy jou vrou voel jy gee haar jou ALLES!
Vryheid en speelsheid - Vrouens kan nou maar net eenmaal nie 4x4 rallies en jag-ekspedisies dieselfde geur gee as 'n klomp mans saam nie. Alle volbloed manne begeer 'n bietjie ruimte vir die dinge wat net 'n man sal verstaan. Jy's dus nie uniek nie, al wil jou vrou jou so laat glo! Wen haar guns met 'n troetel-aand, waar jy in zoom op haar vrouwees, nie net haar kurwes nie! Wys so nou en dan dat sy belangriker is as wêreldbeker-rugby. Miskien score jy op die ou end saam met die bokke!
Seksuele fantasie - Wys my die man wat níé droom oor kurwes, lyne en byna onwelvoeglike dade nie - en ek wys jou 'n wolf wat skaapwagter speel! Wat 'n verligting om te weet dat die Hooglied-bruidegom pront-uit was oor sy vrou se toring-borste, dat hy begeer het om haar trosse dadels te eet en.....dat hy haar gaan neervlei het in die veld! God gee ons toestemming tot avontuur en lus vir mekaar, maar om te droom oor (en te kyk na) 'n ander vrou behalwe jou eie, sal jou manwees isoleer van God en jou koningskap steel! Vat liewer vir mamma vas - dis veiliger, meer Goddellik en hopelik meer beskikbaar!
Bly gerus een van die boys wat ingenome lag omdat vroue nooit heeltemal sal verstaan nie, maar waag dit om jou héle self te deel met die vrou van jou hart. Mag jy só 'n Hooglied bruid kry wat jou manlikheid begeer en jou menswees bewonder!
Gretha Wiid is 'n huweliks- en ouerskapkenner
Dit voel of ek tussen die spreekwoordelike rock and a hard place is. Daar is 'n man by my werk met wie ek baie goed oor die weg kom. Ek weet dis verkeerd, maar ek geniet sy nabyheid meer as dié van my man. Alhoewel hy ook getroud is, glo ek hy is my soulmate. Het ek 'n fout gemaak om met my man te trou? Ek weet nie waarheen nie!
Ai, ou puntstert en sy bemarkingspan! Die gras is mos altyd groener aan die anderkant. Al ooit gewonder of die hoeveelheid poef op die gras iets daarmee te doen het? Jy gaan nie hou van my raad nie, but here it goes!
'n Kykie in die spieël
* Jy het waarskynlik gevoel jou man is jou soulmate toe julle destyds getroud is, geglo hy gaan jou vir altyd gelukkig maak, maar....julle het intussen julle huwelik se vonk verloor soos duisende ander huwelike. Hierdie nuwe soulmate van jou se asem stink ook in die oggend, hy gee ook aandag aan ander vroue met wie hy nié getroud is nie (jy's 'n duidelike bewys daarvan!), hy is bereid om sy kinders se emosie op die prys te stel.....vir 'n "ander" vrou! Wat laat jou dink jy gaan vir ewig voel soos wat jy nóú doen? Jy't jare terug ook so gedink! * Alle verhoudinge begin met vlinders in die maag! Maar met die tyd saam gaan alle huwelike deur stres en probleme. Finansïele stres, kinders, skoonfamilie, siekte, ouderdom, oortyd by die werk...ag, noem dit! Jy sien nou net die beste van hierdie man! Sy "af" kant is dalk erger as dié van jou man? * God sal nóóit een huwelik se verbrokkeling goedkeur net sodat Hy 'n ander een kan bless nie! Jy loop met naïewe hoop rond....hoop dat julle 'n geseënde verhouding kan hê. Wie sal dit seën? God? God eer verbond. Punt! Sy blessing lê by jou huidige verbond! * Wat vervul hierdie man vir jou wat deur jou éie man afgeskeep word? Ons moet altyd weer herinner word dat 90% van alle buite-egtelike verhoudinge gegrond is op hóé die persoon jou láát voel en NIE hóé jy óór hom voel nie! Iemand wat werklik dors is, sal bereid wees om te settle vir 'n klein slukkie lou water! Is jy emosioneel dalk só dors dat jy besig is om lou water aan te sien vir vars fontein water?
Kry jou kop en jou hart op die regte plek
Gaan op jou knieë en praat hierdie ding uit met die Here. Bely jou gevoelens en vra vir vergifnis. Jy het die Here nodig vir perspektief. Jou hart is in alliansie met die satan se plan. Jou hele hart gaan dus skree teen dit wat God vir jou wíl en kán doen!
* Maak fisies 'n afspraak met jou man. Sonder om hom te blameer, vertel vir hom dat jy regtig méér wil hê saam met hom. Sê vir hom dat jy "julle" mis. Spreek jou emosionele behoeftes uit - dat jy dalk meer affection wil hê, meer tyd dat hy na jou stories sal luister, meer gesinstyd saam, meer lag, dat jy opbouende en waarderende woorde nodig het. Wat ookal jy nodig het om te blom. * Die belangrikste is dat jy ook vir hóm moet vra wat hy nodig het om genuine gelukkig te wees. Jy het waarskynlik ook verander met tyd. Jy was dalk altyd avontuurlustig, het gelag, het belanggestel in jou man se dinge, was meer gretig oor intimiteit, het minder gekla en gekritiseer....
Die hardste ding in die wêreld is om introspeksie te doen, ons aandeel in dinge te erken en dan te moet verander. Dis wat dit gaan vat! 'n Vrou wat ongeag haar gevoelens bereid sal wees om te baklei vir verbond! With God as a partner, you're allowed to dream BIG and wait for a miracle!! Net God verander harte van klip in harte van liefde - live by faith, not by sight!
Ek werk voldag, het drie kinders, maar voel soos ’n enkelouer! Ek sukkel elke aand alleen met die aandete, die kinders se badtyd en huiswerk, ag, met ALLES! En my man? Hy sit geplak voor die TV! Hoe gemaak voordat ek mal word of wegloop?
Ek het hoeka al in vorige uitgawes gespot oor manne wat hoofskap sien as hoofseunskap, terwyl die mammas sleg die rang van skolierpatrollie het. ’n Skolierpatrollie wat moet toesien dat huisverkeer en versorging vlot verloop, en soms die voorreg geniet om te lê vir ’n vergadering met hoofseun! Helaas, die gespot klink in jou geval vir my soos ’n nare waarheid.
Bose kringloop
’n Man se selfsug en afwesigheid laat so maklik bitterheid in die vrouehart broei. Bitterheid manifesteer dan maklik in ons houdings teenoor ons konings. Ons loop in die huis rond soos vroue met ’n krummel in die bra, of ’n panty waarvan die rekkie eenvoudig net té styf sit! Ons deel maklik klein stekies uit, verloor ons respek en vorm onwetend ’n alliansie met die kinders. Die uiteinde is ’n wrewelrige, morsdooie gevoel aan ons binnekant. Ons wrewelrigheid verjaag die manne dan maklik na ’n veilige plek...die TV! Verbreking van hierdie bose kringloop, gaan eerstens introspeksie en dan strategiese planne verg.
Die hoender of die eier - wie was eerste?
Sonder dat ek ’n vinger na jou wil wys, moet jy jouself tog eerlik afvra of daar ’n tyd was dat jou man wél betrokke was met die kinders en huishouding? Indien wel, wat het sy afwesigheid veroorsaak? Het jy hom met als probeer reghelp asof sy poging nie 100% in die kol was nie? Of in plaas van ’n tikkie dankbaarheid vir sy "halwe" hulp, het jy hom dalk eerder gewys op dít wat hy wél nagelaat het om te doen? Indien een van hierdie dinge vir jou ’n klokkie lui, lê die oplossing dus by jou!
Mamma se seun?
As jou man egter nog altyd half aan die lui en onbetrokke kant was, is dit eerder ’n opvoedings- en karakter ding. Alhoewel die oplossing dan by hom lê, het jy groter kans om swanger te raak met windbestuiwing, as wat hy dit op sy eie gaan agterkom en verander. Onthou, tradisie bepaal ook dat huishouding en kinders ’n vrou se werk is. Hy is mos die broodwinner?! Tradisie verblind hom dalk vir die feit dat jy ook bydra met die inkomste. In só 'n geval, gaan JY die bal aan die rol moet sit.
Plan van aksie
Reël ’n aand uit, nét vir julle twee. Wees regtig into hím! Vertel hom dat jy hom mis en dat vir jou lekker sal wees as julle meer tyd kan maak vir gesins-, kuier- en alleentyd. As jy dit kan regkry om hom onmisbaar vir jou en die kinders te laat voel, is die stryd half gewonne. As jy hom gaan aanvat en veroordeel, gaan hy homself verdedig op die mees tradisionele manier - rangtrek en onttrek! Gebruik eerder ’n positiewe aanslag soos: "Ek dink die kinders mis jou in die aande. Jy is so ’n great pa en het so baie om te gee." Of wees méér reguit, maar sonder veroordeling: "Ek weet dat jy my liefhet, waardeer en my vrouwees respekteer. Wanneer jy my nie help met die kinders of dinge rondom die huis nie, voel ek in my hart ongewaardeerd en alleen met die kinders. Ek glo met my hele hart dat dit nie jou bedoeling is nie. Ek sal so baie daarvan hou as jy my in die aande help." En dan in jou sexy stem....:"Wie weet, as ek vroeër in die aand klaar maak, kry jy dalk meer as één bonus!"
Dis belangrik dat jy vóóraf jou hart moet ondersoek vir manupilasie, verwyte en bitterheid. Dis altyd beter om die koning se manwees te beskerm as om dit aan te vat.Wees opreg en geduldig in jou soeke na sy betrokkenheid. Dit gaan nie noodwendig oornag 100% verander nie. As hy egter met iets help, sê dankie, lyk opgewonde, maak hom attent daarop hoe die kinders sy betrokkenheid geniet. Konings reageer van nature fantasties op eerbetoning! Onthou, ekstra hulp is op die spel!
Ek is redelik skaam en konserwatief as dit kom by slaapkamersake, maar wil so graag meer opwindend wees vir my man. Ek weet regtig net nie waar om te begin nie. Kan jy my dalk help met ’n paar kreatiewe idees sonder dat ek noodwendig ongemaklik gaan voel en my man ’n hartaanval gaan besorg?
Oeee njammie, as dit kom by avontuur, sê ek: Va-va-vooooom! En die lekkerste deel van kreatiewe idees, is dat jy sommer ’n kielie-klingel by jou katel-knoppies kry net by die uitdink daarvan. Moenie noodwendig wegtrek met die kreatiefste van die idees nie. Buiten dat jou man dalk regtig styfskop (bedoelende dat hy onwillig kan wees oor die vreemdheid), kan ’n goed bedoelde reaksie soos: "Wat het in jou ingevaar?", jou verwerp en soos ’n stuitige gek laat voel. Die uiteinde? Jy sal dit ten-to-one nooit weer waag nie!
Kreatiewe plekke
Min dinge laat jou sekslewe so afgestomp voel soos dieselfde posisie in dieselfde bed. •Loop kaal onder jou japon rond terwyl jy doelbewus iets doen dat jou man dit moet sien. En as die kinders nog daar rondhang, word jy die spreekwoordelike verbode vrug. •Lank laas in die kar gevry? Terwyl julle alleen in die kar ry en jou hand oudergewoonte op jou man se been is, kan jy gerus sy manlikheid streel met ’n ferm, maar sensuele vryf of twee. Wees versigtig vir die handrem (lees: ereksie, he-he). As dié op is, sal hy moeilik bestuur! •Verras hom in die garage as hy terugkom ná werk. Niks soos ’n heerlike warm bonnet nie! •Hom al ooit gaan besoek by sy kantoor? Indien die kantoor privaatheid toelaat, mag jy mos op die baas se skoot gaan sit, of hoe? En net klein dogtertjies se mammas sê hulle moet ALTYD mooi sit!
Neem jouself onder hande
As ons sexy voel, dan raak ons makliker speels en selfs bietjie gewaagd. •Terwyl dit Somer is, word die tuin mos ontbos! Wat van sussie? Lanklaas gegaan vir ’n wax? Waag ’n slag om bietjie meer te laat afhaal. Nie noodwendig álles nie, jy kan vir sussie ’n kuifie los! •Koop nuwe, opvallende onderklere - al pas dit nie by enige van jou klere nie. Jy kan dit net koop vir uitlokkende voorspel. Wag in die bed daarmee met bonkige juwele aan. •Laat 'n professionele grimeerkunstenaar vir jou wys hoe om sensueel te grimeer - grimeer dan só om ’n nuwe prentjie in die bed te wees. •.Terwyl jy jou tánde onder hande neem, kan jy gerus net jou broekie en jou stilleto's aanhou - die vooroor gebuk om te spoel, sal hom liries laat! Hoe sexier jy voel.....
Begin jou voorspel reeds deur die dag
•Bel jou man deur die loop van die dag en vra stadig...in die smeulendste van smeulende stemme...wat hy vir ete wil hê. Laat hom duidelik verstaan dat jy poeding in gedagte het. •Stuur 'n sms soos:"Ek kan nie jou hande uit my gedagtes kry nie - wil mal word as ek dink dat hulle vanaand aan my gaan vat!" Of wees super sexy met: "Ek wil jou vingers vanaand in my mond voel. En daarna kan jy met hulle maak wat jy wil!" Los ’n 'warm' brief in sy aktetas of dagboek. Selfs ’n sexy stukkie onderklere in ’n briewetas, kan hom net dalk nóg vroeër laat huistoe kom!
Laastens kan ons gerus onthou dat manne ’n lover, nie ’n mother, wil hê nie. Moenie geluidloos soos ’n lam ter slagting lê tydens seks nie. Sê vir hom as iets lekker is, of as hy spot-on is! Maak ’n geluid of twee. Hy wil weet jy kreun van genot!
Is dit nie glorious om te weet dat ál hierdie idees in lyn met God se wil is nie! Mag jy vergeet van die bytjies en die blommetjies....en verander in ’n perdeby met ’n venus-fly-trap!
Ek dien die Here met my hele hart en lewe, maar my man doen nie! Hy sê hy is gered en dat hy die Here op sy eie manier dien, maar ek sien geen vrug in sy lewe nie. Ons baklei só baie daaroor. Ek wil my man so graag op dieselfde page as ek hê, maar sonder heeldag se bakleiery en oortuiging.
Mans sukkel dikwels meer as vroue om die Here met krag te dien
Dit mag dalk 'n verskriklike ding wees om kwyt te raak, want daar IS baie mans vir wie Jesus Christus hulle eerste liefde is, maar.... Tradisioneel is dit nou maar een maal só dat vroue makliker hulle harte, gedagtes, trane, tyd en persoonlike geheime met die Here deel. Miskien is dit die hele ding van trots - I'm the man! Pappa is die sterkste en het niemand nodig nie! 'n Verdere rede mag dalk 'n aanklag wees voor die Christendom. Ek dink baie mans dink dis bloot boring om die Here te dien. Hulle kyk vas in die "mag nie, moenie-wette". Hulle sien net te veel opoffering wat saam met die dien van die Here kom - pelle, kuiertyd, rook, sy drankie....en dan moet hy nog saam met jou begin bid! Sjeesh! Begin op die regte plek
Wat ookal die rede is dat jóú man die Here nie met oorgawe dien nie, jy kan die grootste instrument wees in hierdie hele proses. Maar dan moet jy dalk op 'n heel ander plek begin as bloot net bid en glo. Die gesegde lui: "Sometimes we are so heavenly bound, that we are earthly no good!" As jy na 'n honger boemelaar toe gaan en probeer oortuig dat Jesus die Ware Brood van die lewe is, maar jy laat ná om eers fisies vir hom 'n brood te gee, sal sy lyf, gees en kop sukkel om jou te hoor of te glo. Stil eers sy honger, vertel hom dán van Jesus! Net so met jou man. Maak seker dat jy en hy pelle is, sorg vir sy emosionele EN seksuele behoeftes. Kry hom eers op dieselfde page nét met julle verhouding. As hy weet jy líéf hom, koester hom, admire hom, is lús vir hom....is hy onmiddellik meer oop vir jou behoeftes - ook dat hy die Here sal leer ken! 'n Paar moets en moenies
Moenie jou man manupileer met heiligheid nie - oorlog is ál wat dán vir jou voorlê.
Moenie God gebruik as wapen nie - "God kan jou nie seën as jy só lewe nie!"
Moet jou man nie oordeel nie - "Jy kuier te veel. Jy moet jou lewe agtermekaar kry!"
Moenie jou man probeer vermaak nie - "Ek sal maar met die Here praat en kerk toe gaan - iemand moet!"
Jou voorbeeld moet jou man wen vir Jesus, nie jou mond nie! Lyk en klink dit great om die Here te dien as mense na jou kyk?
Wys vir hom hoe vergifnis lyk en klink - sonder om dit terug te verwag!
Moet hom nie na elke tweede kerk funksie toe probeer sleep, maar steeds weier om deel te wees van sy sosiale lewe nie.
Verklaar hom as koning - respekteer hom voor die kinders, julle vriende en by die familie!
Spreek lewe oor hom! Moenie dood en oordeel met jou tong saai nie!
Eer sy pogings - nie op 'n patronising manier nie, maar genuine!
Nooi pelle oor wat 'n duidelike balans in hulle lewe het.
Moenie Christianese voor jou man praat nie - die Here sê..., God wil hê.... Hou aan glo
Ek het laaaank probeer om Francois te oortuig van God se krag, liefde en Sy Woord. Ek het hom gesmeek (en daaroor baklei) as hy nie saam wou gaan na die dinge van God toe nie. Ek het God en Sy Woord soos 'n wettiese wapen gebruik. Ek het gehuil, gedreig, gedink ek IS beter. Glo my, ek het gesuffer...sonder enige sukses! Toe ek by die basics begin - ons verhouding, my eie voorbeeld, my respek en uiteindelik die Woord as manupilasie-wapen neerlê....wa-la!!! Toe kom Francois by die Here uit! En boy oh boy - hy LIEF die Here én Sy Woord!
Die waarheid? Walk by faith, not by sight! Die goeie werk wat God begin het, sal Hy tot voleinding bring! Glo jy dit? Gaan wees lief vir jou man! Gee die oorlog vir God, maar intussen.....basics, sussie, basics!
Dit voel of ek en my man op verskillende planete gebore is as dit kom by kommunikasie. Hy dink ek is oor-emosioneel en maak 'n berg van die kleinste molshopie!
Laat ek jou onmiddellik gerus stel - jy's heeltemal reg! Julle ís op verskillende planete gebore as dit kom by kommunikasie. Manne sien probleme baie maklik in swart en wit, terwyl probleme en dié se oplossings in ons briljante, meer gespesialiseerde koppe varieer van charcoal tot 'n heerlike ligte grys. Afhangend natuurlik van ons PMS-vlakke, hetsy ons geliefd of afgeskeep, gewaardeer of geïgnoreer, slank of oorgewig, jeugdig, maar wys, of oud en agter-die-tyd voel. Hoe ons voel, affekteer ALLES!
Ek dink een van die grootste uitdagings in die huwelik, is om juis dít wat God verskillend gemaak het in ons, te celebrate en só te leer hanteer, dat dit die beste in ons verhouding uitbring. God het ons vroue met soveel emosie aanmekaar geweef! Ons moet net leer om dit te balanseer..en meer nog....moet ons leer dat in goeie tradisie, baie mans bang is vir emosie of bloot net ongeoefen is. Ek dink nie noodwendig dat mans se méér analitiese, feitelike aanslag béter of meer rég is nie, maar uit emosie alleen kan 'n huwelik óók nie bestaan nie. Meeste manne kla oor dieselfde dinge as dit kom by hul vroue se emosie. Kom ons lees hierdeur en evalueer onsself eerlik.
Hierdie is nie 'n beskuldiging nie, net 'n checklist:
Vroue krop op...en blaas dan op 'n dag af soos 'n stoompot. Praat eerder vroeër as later. As jy opkrop, gaan jy oor-emosioneel wees teen die tyd wat jy afblaas.
Vroue gebruik dikwels emosie om te manupileer. Raak jy aspris hartseer, of reageer jy aspris seergemaak net om jou sin te kry? Sulk jy net om hom sovêr te kry om te luister of skuldig te pleit. Emosie kom van God af, nie manupilasie nie!
Vroue wil op die onmoontlikste tye oor die mees emosionele dinge gesels. Met manne is timing of the essence! Moenie oor sake van die hart wil gesels as hy besig is met iets anders of reeds geïrriteerd is nie. Vra vooraf wanneer die beste tyd is om bietjie te chat! Probeer om nie intussen soos 'n oorlogskip in vredestyd na hom te gluur nie. Jy gaan mos jou sê kan sê...net bietjie later!
Vroue lees te veel daarin as hulle mans nie emosioneel reageer nie. Dít wat manne aan die buitekant wys, is nie noodwendig wat hulle aan die binnekant voel nie. Hy is gemaak om feite te absorbeer en rasioneel te dink oor sy gevoel. Hou op soek vir 'n traan wat wimpel oor sy wang of'n ogie wat jammerlik na jou kyk. As jy lank genoeg gaan demand om te weet hoe hy voel, gaan hy na 'n ruk wel sê - keelvol, moedeloos, geïrriteerd.
Vroue moan oor een ding, maar bedoel iets anders. Jou man nooi dalk (onverwags) vriende vir aandete - en jy het vis en mash in gedagte (gehad). "Ag, dis Gert-hulle. Hulle sal nie mind nie", verdedig hy. Terwyl jy moan oor die feit dat hulle mash gaan moet eet, gaan die krummel in jou bra dalk eintlik oor die feit dat jy ongerespekteer voel, ongeken in sy besluit. As jy feite en gevoelens gaan verwar, gaan hy nie weet waaroor jy 'n bohaai opskop nie.
Vrouens hou soms aan om emosioneel te wees al is dinge uitgesorteer. Moet ek meer sê as om jou te herinner aan die wyse woorde van Salomo - 'n druppende kraan...'n dak wat lek.....!
Vroue raak soms emosioneel oor 'n verkeerde aanname. Ons beplan soms 'n hele oorlog (en wen hom reeds in ons koppe) - en dít gebaseer op aannames. As hy jou aanname verkeerd kan bewys, gaan hy jou 'feitelike' aanname én jou emosie van die tafel afvee. Maak doodseker jou wegtrekpunt (aanname) is korrek!
Ag, ek weet dit klink asof ons altyd alles moet doen om ons manne te akkomodeer. Maar ons is nou maar eenmaal meer aanpasbaar en geskape met 'n natuurlike, diepe begeerte om alles te laat werk! G'n wonder ons is die kroon op God se skepping nie!
Almal beweer altyd dat mans heeldag seks wil he, maar in my geval is dit andersom. Ek en my man het altyd 'n baie goeie sekslewe gehad, maar deesdae is HY altyd die een met die hoofpyn en chroniese moegheid! Moet ek bekommerd wees? Wat beteken dit en wat moet ek daarvan maak?
Daar is 'n zillion vroue wat sal juig as hulle mans hierdie spesifieke probleem sou hê! Party vroue sal selfs bereid wees om uit te ruil as hulle net vir een aand rustig aan die slaap kan raak sonder die stem in die donker wat vra: "Slaap jy...?" Maar nou ja, dis húlle! Ek glo dat jou tipe probleem soveel emosie by 'n vrou kan ontlok - verwerping, frustrasie, 'n twyfelagtigheid in 'n man se liefde....selfs kommer? Alhoewel elke huwelik uniek is en die onderliggende rede van só iets nie by almal dieselfde gaan wees nie, is daar tog algemene dinge wat ons kan oorweeg: Jou man is nie 'n klip nie
Stres het 'n geweldige negatiewe invloed op mans se seksdrang. En die manne (spesifiek blanke, afrikaanse mans) leef deesdae onder geweldig baie stres. Daar is die chroniese swaard van affirmative action wat oor hulle koppe hang, saam met die stygende petrolprys, inflasie en algemene lewenskoste! Mans voel baie maklik asof hulle failures is as hulle nie kan voorsien nie. Die tradisie van "Cowboys don't cry" veroorsaak ook baie maal dat hulle stres en emosie opkrop. Dit beteken egter nie dat dit nie daar is nie! Wat kan jy doen? Invest genoeg in jou emosionele verhouding met jou man dat hy veilig genoeg sal voel om oop te maak. Moet hom nie kritiseer of aanvat nie - ondersteun hom en bewys in die klein dingetjies dat jy deel van sy span is! Die spens is nou in die pens
Mans se fisieke toestand hou 'n direkte verband met hulle seksuele prestasie. Oorgewig mans sukkel meer met hulle hormone en ereksies as hulle in-shape boetas. Vetweefsel om die maag lol maklik met 'n man testosteroon - die hormoon wat hy nodig het vir gesonde libido en ereksies. En 'n man wat sukkel met 'n ereksie gaan noodwéndig probeer wegskram van seks. Sy manwees en sy ego is immers op die spel! Dis nou maar eenmaal 'n feit dat mans nie maklik oopmaak oor ereksie-probleme nie. Pappa is tuff en hard gebore, onthou jy? Wat staan jou te doen? Kry hom met iets exciting van die sitkamerbank af (nee, nie seks nie!). Vat vir woef om die blok om pappa se seks te lok! Dit moet iets wees wat jou man sal geniet en waarmee hy nie bedreig gaan voel nie. Pas ook julle huis se dieet aan na gesonde kos wat sy magie gaan laat wegsmelt. Moet hom nou nie op blaarslaai martel nie...baby-steps!
Die gras aan die anderkant van die draad
Eish, die lastige tannies met die tieties! As 'n man pornografie kyk, gaan dit 'n defnitiewe effek hê op sy verhouding met sy vrou. Aanvanklik kan dit sy seksdrang aanwakker, maar in die long run (veral as dit gepaardgaan met masturbasie), kan hy begin retreat in sy eie wêreld in. Die fantasieë wat hy het, maak dit miskien ook moeilik om fisiek aangetrokke te voel teenoor sy vrou. Ons moet onthou dat mans baie visueel ingestel is en altyd hou van avontuur. Vraag is: Hoe mooi kyk jy na jouself? Is jy bereid om bietjie avontuurlustig te wees saam met jou man? Selfs die couple in Hooglied het seks gehad buite in die veld! Jy kán hemelse avontuur en plesier hê sónder seks-toys en pornografie. Komaan, wees kreatief! Dink bietjie uit die box uit!
Te veel vroue dink dat seks vir mans suiwer 'n fisieke ding is. Die waarheid? Hulle wil graag hulle manwees validate by ons. Hulle soek responsive partners in die slaapkamer, 'n versorgde prentjie asook respek en eer vir die koning. As jy regtig weet jy bring jou kant hiermee, is stres, moegheid en fisieke probleme die ding wat gaan aandag verg. God het seks ge-invent sodat ons emosionele vervulling, geestelike eenheid en fisieke bevrediging kan ervaar. Vra Hom om jou die strategie te wys!
Ek vermoed my man is ontrou aan my, maar ek weet nie of ek my verbeel nie. Ek het hom lief en wil hom nie verloor nie! Ek voel so magteloos en die seer lê my heeltemal lam! Moet ek hom konfronteer? Ons het pragtige kinders en ek wil nie net skei nie. Is daar hoop as ek byna seker is van sy ontrouheid? Help asseblief!
Oeeee, my hart gaan uit na jou toe! Is daar enige iets ergers in die huwelik as om te twyfel oor jou maat se liefde en sy trouheid! Om alles met suspisie te bekyk, te soek vir die bewys dat sy liefde (of sy lyf) nie aan jou alleen behoort nie en tog...om enige van sy mooi woorde en liefdevolle blikke soos krummels van die tafel af te gryp...met die hoop, dat jou vermoedens verkeerd is of was.
Dit wat in jou binneste krap, lê my so na aan die hart omdat dit ook een van die groot sere was in my huwelik. Maar, met die lang pad na genesing het ek wonderlike openbaring gekry wat ek hopelik vandag vir jou kan gee - om ook vandag reeds op jou pad van terugbaklei en genesing te begin stap. En ja, ek bedoel TERUGBAKLEI! Nie mét jou man nie, maar vìr hom. Waarom is mans ontrou?
Menige vrou wat hierdie vraag gaan probeer antwoord (veral die verbitterde soort) gaan onmiddellik iets sê soos: Want mans se "goed" pla hulle! Die waarheid is egter dat meeste mans nie noodwendig ontrou is ter wille van seks nie. Dit gaan in meeste gevalle nie vir mans oor hóé hulle oor die ander vrou voel nie, maar wel oor hóé die ander vrou hùlle laat voel. Hierdie is genuine die kern van meeste ontrouheid - so lees die vorige sin weer!!! Nie net lê die kern van meeste mans se ontrouheid hierin nie, maar ook die geheim van wat jou te doen staan. Het jy dalk 'n aandeel?
As ek terugdink aan die pad wat ek en Francois gestap het, onthou ek maar te goed dat herstel vir my onmoontlik geklink het. En allermins was ek op 'n plek in my lewe dat ek wou aanvaar dat ek enigsens 'n aandeel in sy ontrouheid gehad het. Maar die harde realiteit was dat iemand anders my man laat voel het soos 'n koning. Ja, by haar het hy begeerlik en belangrik gevoel. Sy kon hom laat blom met haar komplimente en woorde wat sê: Ek kan nie genoeg van jou kry nie! Maar ek? Ek het hom in die aande in my japon ontvang. Ek het hom gedurig gewys op sy foute. Heeldag gekerm dat hy laat by die huis kom. Ek het hom gechallenge voor die kinders...en selfs voor ander mense. Verstaan my mooi, nie een van hierdie dinge is 'n goed genoeg verskoning vir enige iemand om ontrou te mag wees nie, maar die harde realiteit is....my optrede was tog deel van die oorsaak.
Bes moontlik laat jou man jou ook nie altyd (dalk nooit) soos 'n koninging voel nie. En dis nie asof jy 'n verhouding sal aanknoop net daaroor nie, reg? Die vraag is: Wil jy sulk, of wil jy iets doen daaraan? Wil jy die victim wees...of die soete smaak van victory hê? Die pad is nie noodwendig maklik nie, maar deur en deur die moeite werd! Vra my!
Hoe om te baklei vir dit wat jóúne is!
* Moet hom nie heeldag konfronteer oor sy doen en late nie (ek weet jy't die reg om te weet, maar wil jy hom so graag verder in iemand anders se arms indryf?) * Maak jouself mooi vir hom - genuine mooi! Onderklere, lipstiffie, lekker ruik.... * Hy moet eerste kom in jou prioriteitslysie, dan die kinders!! (nogal tough, ek weet) * Stel belang in sy werk en sy stokperdjies. Boost hom, boost hom, boost hom!!!!! * Inisieer seks van jou kant af - ja toe, toe... jy kan! * Vra jouself of is daar omstandighede by die huis waarvan hy dalk wil vlug? Werk daaraan! * Mans wil nie net die man van die huis wees nie, maar het nodig om te weet dat hul vrouens dink (en dit uitspreek dat) hulle mans genoeg is. Gaan dink oor hierdie ding. Hierdie is 'n groot waarheid, vra enige man!
As jy nog sukkel met hierdie aksieplan, doen intussen die beste ding ooit. Vra die Heilige Gees om jou man op te pas en te beskerm. En claim jou man en jou huwelik in Jesus se Naam!
Seks voel regtig vir my soos werk! Ek het my man nog NOOIT seks geweier nie, maar dit lyk nie of dit vir hom genoeg is nie. Wat meer moet 'n vrou doen as om beskikbaar te wees? Ek wil nie hê my man moet op die ou end rondkyk nie!
Ai, die lus-spesie versus die moeg-spesie. Om die heeldag te werk, vanaand te moet kos maak, kinders se huiswerk na te gaan (eintlik dóén), PMS te probeer beheer én dan ná nege in Nurse Betsy te moet verander, is erg, ek weet! Maar, omdat ek 'n aardsoptimis is, wil ek jou vra om eerstens 'n bietjie te rejoice oor die feit dat jou mán nie die moeë een is en jy die lús een nie. Fisiologies het ons dan met 'n probleem gesit - spreekwoordelik 'n marshmallow in 'n munt-bussie-probleem! Wat 'n frustrasie!
Nadat ek en my man, Francois, tot bekering gekom het en die hele storie van owerspel en pornografie op die lappe gekom het, was seks vir my aanvanklik regtig 'n wilsbesluit. Ek het besef dat die satan deur seks steel in baie huwelike en het net eenvoudig besluit - lus of te nie, die satan sal nie weer by my wen nie! Maar jy sien, as jy altyd net 'bereid' is, maar seks aanpak soos 'n lam ter slagting, gaan jou man áltyd voel jy doen te min! En dan steel ou puntstert weer deur dít wat Goddelik is, in 'n frustrasie en bakleiery te verander. Om net bereid te wees is dus nie genoeg nie - manne soek iets anders!
Om weer bietjie 'n spark (of 'n bosbrand) terug te sit in jou sekslewe, moet jy begin om jou man anders te benader deur te weet wat hom laat tick!
* Manne soek 'n prentjie. Dit wat hulle sien, moet hulle visueel uitdaag. Hulle soek 'n njammie prentjie! Nee, moenie dat die satan nou van jou steel sodat jy moet glo ek praat van jou lyf se shape nie (onthou, 'n sirkel is in elk geval ook 'n shape). Ek wil weet of is daar iets va-va-vuums aan jou voorkoms? Dra jy nog sexy onderklere, of het jou vleeskleur nommers die oorhand in jou laai? Pappa sien ook die ou mooi goedjies in die catalogues raak, né! Gaan jy net Desembers vir 'n bikini-wax en die res van die jaar is jul weed-eater deel van jul voorspel? Sluip jy soos die gemaskerde sopbeen in die donker rond? Waar's die lig - hy wil kan sien! En onthou - as 'n vrou sexy voel vir haarself, sien sy gewoonlik kans vir meer! * Manne wil wanted (desired) voel. Maak 'n kopskuif om speels te raak wanneer jy met jou man praat. Hy wil voel asof jy nie jou hande van hom kan afhou nie. Inisieer seks van jou kant af - al is dit net met die manier wat jy praat! Lawwe voorbeeld: As jou man in sy overall ingestap kom - vuil en natgesweet - vra bietjie: "Mr. Mechanic, jy dink nie dalk mamma het ook 'n diens nodig nie? Of as jou man al 'n gryskop is, vryf bietjie oor sy kop en vra: "As daar soveel sneeu op die dak is, hoop ek daar's 'n kaggel wat brand -grrr!" Laat voel hom soos die mees begeerlike man op aarde! * Manne hou van avontuur. As seks in jou kop 'n wérk is, sal jy dit nooit geniet nie. Gaan herontdek jou speelse kant. Knip jou flennies strategies twee gate in, flash vir hom as hy grassny, stort onverwags saam met hom. Baie vroue getuig daarvan dat hulle seks opnuut weer begin geniet het nadat hulle besluit het om van hulle kant af avontuurlustig te raak. Nie moeg geploeg, maar met idees vir pret in die bed!
As jy begin om van jou kant af uit te sien na seks, iets te doen wat jou gaan laat begeerlik voel en sommer speels te raak, gaan jy jou grootste seksorgaan - jou brein - 'n brandstof-inspuiting gee. Dis dalk ál wat jy nodig het, Nurse Betsy!
Ek is 'n dinamiese vrou met 'n sterk persoonlikheid. Hoe kan ek onderdanig wees sonder om my persoonlikheid te compromise?
God is mal oor dinamiese vroue. Dis juis sulke vroue wat kragtig deur Hom gebruik word! Jou worsteling is dalk vanweë 'n tipiese tradisionele siening van onderdanigheid. Tradisie bepaal dat meeste vrouens voel asof hulle met hoofseuns (in plaas van hoofde) getroud is - en dat ons skonere geslag slegs die titel van skolierpatrollie gekry het. Die skolierpatrollie (vroue) voel soms asof hulle net goed genoeg is om die kinders oor die pad te sien (versorg), die verkeer in die huis vlot te laat verloop (vrede te bewaar) en so nou en dan moet lê vir 'n vergadering (eerste ding op hoofseun se agenda).
Ons moet besef dat mans ook dikwels vasgevang is in tradisie oor hoofdyskap. Meeste van hulle het grootgeword om hulleself te bewys met geld (werk), mag (en krag) en seks. En hulle sal hul idees én regte daarondom, verdedig met mening.
Ek wil jou vandag uitdaag om strategies te raak oor jou man se hoofdyskap. Kroon hom as koning in jou huis en pluk die soete vrugte om behandel te word soos 'n koningin. Voor jy sug, suster, luister hierna! Toe ek en my man, Francois, op die rand van egskeiding gestaan het, het my ma my die heeldag herinner dat ek die kroon op sy kop moet hou. Ek het goed getantrum en 'n duisend verskonings gehad. Ek het immers die seer pad van pornografie, owerspel (en soms hardhandigheid ook) met my man gestap! Ek wou op 'n berg gaan staan en skree: "Hoekom moet ek submit aan iemand wat nie eers die Here dien nie en defnitief nie Jesus se liefde aan my betoon nie? En hoekom moet ek sag wees as God die Een is wat my sterk gemaak het!" Jy kan dalk goed identifiseer met hierdie gevoel. Maar my uitdaging staan: As jy vandag bereid is om in te koop in 'n paar basiese planne, is jy net dalk op die ou end gebless met 'n veranderde man (soos my Francois) wat jou opinie hoog ag en trots is op jou sterk persoonlikheid.
'n Paar strategiese tips vir wanneer die hoofseun sukkel met hoofdyskap:
* Verdedig sy koningskap wanneer ander mense van hom sleg praat. Weier om self van hom te skinder! (Oeee, die versoeking!) * Hanteer konflik anders! As jy (terug) aanval, gaan die koning terugval in tradisie - die laaste sê! * Onthou sy ego! Waardeer sy geld (werk), bevestig en bewonder sy krag en laat voel hom desirable (jou eie persoonlike Brad Pitt!) * Moenie 'n alliansie teen hom vorm saam met die kinders nie. (Don't we love doing that!) * 'n Gevoel van minderwaardigheid, sal met meerderwaardigheid verdedig word. Moet dus nooit sy eer aanvat, hom onbevoeg of belaglik laat klink nie. Selfs al is julle alleen. * Moet hom nie probeer manipuleer om beheer te kry nie. (Ons vroue se siekte!) * Herstel die seer van sy kinderjare wat sy manwees-persepsies gevorm het. As hy grootgeword het met kritiek, weier om hom te kritiseer. Moes hy as kind altyd iets bereik om erkenning te kry? Eer dan selfs sy mislukkings. Het hy 'n pa gehad wat nie belanggestel het in hom nie? Gooi hom dan toe met aandag.

|