Bakleiery
Geskryf deur Gretha Wiid   
Ek en my man baklei nie dikwels nie, maar ons baklei ALTYD oor dieselfde goed! Die beste is dat ons na 'n ruk altyd baklei omdat die een voel dat die ander een hom nie hoor nie.  Ons gaan draai later by fights van 10 jaar terug.  Ons praat in sirkels en kom nooit verder as beskuldigings nie.  Is daar hoop?

Dis so maklik om te wens dat jou maat soos 'n disprin sal oplos die oomblik wat julle alweer oor dieselfde issue begin baklei, is dit nie?  Die disprin gedagte laat mens altyd minder wreed voel oor die wens - bloot omdat jy daarmee nie noodwendig wens dat jou man heeltemal sal verdwyn nie, maar net dat hy minder gekonsentreerd voor jou sal staan - vir die oomblik! Maar helaas, moet ons vroue aanvaar dat ons nie die beste bakleiers onder die son is nie.  Ons is dikwels oor-emosioneel en gebruik alte graag woorde soos ALTYD en NOOIT in ons baklei-sinnetjies.  En die koeie?  'n Mens sal sweer dat reïnkarnasie 'n werklikheid is soos wat ons soms die ou koeie laat herleef!
Reg baklei is 'n kuns wat baie oefening kort.  En om die kuns te bemeester, moet ons besef wat ons foute is wanneer ons baklei:

Na jare, neem ons aan ons weet reeds wat die ander een gaan sê.  As ons aanneem dat ons weet wat die ander een gaan sê, skakel ons onbewustelik af omdat ons mos nie nodig het om te luister nie.  Die uiteinde?  Die 'ongehoorde' party moet volgende keer weer oor dieselfde ding baklei met die hoop dat jy hom hierdie keer gaan hoor. Wat natuurlik nie gaan gebeur nie - want jy weet reeds wat hy gaan sê.........SIRKELS!!!!  Die kuns:    Luister so goed dat jy sy woorde omtrent woordeliks kan herhaal!  

Ons dink reeds wat ons wil "antwoord" terwyl die ander een nog praat.  Ons voer oorlog in ons koppe en laai ons magasyne terwyl ons eintlik veronderstel is om te luister.  Omdat ons op hierdie manier verby mekaar hoor en praat eindig ons by:  "Dis nie wat ek gesê het nie!.....Okay, sê dan weer", waartydens ons natuurlik wéér magasyne laai.  Jip, jy raai reg.  Ons praat in SIRKELS!  Die kuns:    Luister eers na sy storie asof jy die HR bestuurder is wat nie net die feite wil hoor nie, maar ook sy hart wil hoor!

Ons word ge-side-track.  Omdat ons voel dat ons nie gehoor word nie, is dit die mees natuurlike ding om ons issue te probeer beklemtoon aan die hand van 'n ander voorbeeld.  Dit side-track ons heeltemal en laat waai met ou koeie!  Nou voel almal moedeloos, geïrriteerd en van voor af seergemaak.  Die waarheid is dat die ou koei presies dieselfde emosie aanspreek.  Ons probeer egter so hard om ons feite te beredeneer, dat ons die emosie AL WEER mis......SIRKELS!  Die kuns:  Weet dat die ou koeie se onderliggende issue (lees: emosie) presies dieselfde is as die huidige een.  Hou dus by die punt, die koei kan jou nie help nie!

Ons raak persoonlik....punt!  As ons radeloos begin raak om ons issue te kommunikeer, raak ons maklik persoonlike-, seermaak dinge kwyt.  Dis magteloosheid om ons eintlike emosie te kommunikeer wat maak dat ons 'ingaan vir die kill'!  Die kuns:  Vra jouself af of dit wat jy jou maat nou gaan noem, iets is waarvoor jy jouself sal kan vergewe as hy môre nie meer daar sou wees nie.  Ja, toe, toe...selfs huwelikskenners mag so nou en dan afpers...mits ons weet dat dit genuine gaan help!

Ons verval in wedersydse beskuldiging.  Attack is the best way of defense?  Net opponente hou score!  Die moeilikste ding om te doen midde in 'n bakleiery, is om die minste te wees.  Die punch te vat! Die kuns: Vat soms die blaam, selfs onverdiend!  As jy dit kan regkry, haal jy onmiddellik een van satan se naels uit jul huwelik uit!  Jy mag my toets, ek weet dit werk!

DIE WARE KUNS:  Die wonderlikste ding wat ons kan leer van baklei is dat daar agter elke 'iets' waaroor ons baklei, baie diep emosie lê.  Hoe vinniger ons by die emosionele boodskap uitkom, hoe vinniger sal ons sien dat die onderwerp of rede van konflik minder belangrik is.  Gebruik hierdie paar kunsies religiously, probeer om jou maat se hart te hoor en te verstaan - beter as die feite ter tafel.  Vra jouself heeltyd watter emosie wegkruip agter dìt wat jou maat sê en ek belowe.....die sirkels gaan tot 'n einde kom!  Moet nie net luister nie, maar hoor...hoor...hoor!  And if all else fails, drink 'n pilletjie!  Môre is nog 'n dag!

Viva, die disprin!
 

Terug na die vorige blad

Voorblad Gretha Skryf Jy en jou huwelik Bakleiery
facebook_logo

Volgende geleentheid

04.09.2010 | 18.00 Kommunikasie en Konflik in die huwelik
07.09.2010 | 09.00 Emosionele behoeftes in die huwelik
11.09.2010 | 09.30 Eva se lyf
16.09.2010 | 18.30 Tienerseksualiteit
18.09.2010 | 10.00 Kom mans regtig van mars
<<  September 2010  >>
 Su  Mo  Tu  We  Th  Fr  Sa 
     1  2  3
  5  6  8  910
1213141517
19202122232425
2627282930  

Nuusbrief registrasie

 

Fantastiese produkte

WWC220

sekswatvernietig220
  Hv Zambezi-rylaan & Vinko-straat, Sinoville, Pretoria  |  GPS -25.680925, 28.22360  |  0861 473 842  |  0866 799 046  | info@grethawiid.co.za
_