|
Geskryf deur Gretha Wiid
|
|
Daar is nogal baie weergawes van die bonnetgrappie wat die rondte doen. Toe daardie aanhaling in die koerant verskyn het, het ek geweet: I will never live this one down! Ons het grootgeword met soveel dogma en verwarring rondom die woord seks. Die hele ding van seks as geskenk van God versus seks as sonde, heiligheid versus genot, die wonder van seks versus die gevaar van seks. Dis veral kinders van die Here wat nie weet waar God se grense, ten opsigte van seks, is nie. Natuurlik het God grense om ons te beskerm in liggaam, siel en gees. Maar binne daardie grense moet ons mekaar in ons huwelike geniet en dinge soms ook avontuurlustig hou. My seminare gaan hopelik vir altyd gekenmerk word deur my humor en my reguit manier van praat, maar mag die Here my help dat ek nooit pervers sal wees nie. Die bonnet-grappie was regtig ‘n tong-in-die-kies aanmerking wat heeltemal buite konteks aangehaal is. Maar nou ja! Wat is in elk geval beter? Om jou man in te wag voor die televisie in jou sweetpak, of hom met passie te groet na ‘n lang dag weg van mekaar....sommer daar in die motorhuis (knipoog en lag)? Mense wat al na my kom luister het, sal weet dat ek miskien baie reguit praat, maar dat ek eintlik baie konserwatief in my sieninge is.
|