|
Geskryf deur Gretha Wiid
|
Gee vir jou man genoeg seks en hy sal by jou bly…WHAT!
"If Gretha Wiid had one wish, it seems, it would be that we return to a time when men were heads of their households and women tittered around worrying about nothing more than their make-up and how sexually attractive they are to their husbands. It is, as we all know by now, a recipe for disaster. But that doesn’t stop Ms Wiid from behaving like a self-proclaimed latter-day prophetess channeling the hungry ghost of some long departed 50s housewife." – Marianne Thamm uit www.women24.com
Dit is die grootste klomp nonsens wat ek sekerlik oor myself gelees het. Wat ek vir vroue sê is dat mans van nature baie visueel ingestel is. Maak jouself mooi vir jou man. Uit respek en liefde vir hom, én vir jouself. Ek wonder, sou dit beter wees as ek vir vroue vertel dat slordigheid aanvaarbaar is, of stink asems en lang beenhare, omdat liefde nie gaan oor die uiterlike nie? Huh?
Ek voel sterk daaroor dat vroue nie gebruiksartikels is nie. Hulle waarde is soveel meer as die uiterlike (wat in elk geval vergaan met tyd). Mans moet hulleself ook goed versorg en ‘mooi maak’ vir hulle vroue. Uit respek en liefde vir haar. Ek praat reguit daaroor met mans by my seminare. Dit is laakbaar om te dink dat mense dit wil laat klink asof ek sê dat vroue net ‘n gesig en ‘n lyf is. Net so min is mans net ‘n beursie en ‘n handy-man. Om jouself goed te versorg sê nie iets van slawerny of argaïse 50’s tradisies nie, dit sê iets van jou karakter. En dit sluit mans in. Ek hanteer by my seminare die verskillende aspekte van die huwelik. Intimiteit, begeerte en die uiterlike is maar ‘n klein deeltjie daarvan. As grimering en sensualiteit ‘n huwelik kon laat slaag, sou ons seker heelwat minder egskeidings en gebrokenheid in ‘n plek soos Hollywood gesien het.
En o ja – ek het myself nog nooit ‘n profeet genoem nie. Ek is ook nie ‘n evangelis soos wat ek deesdae genoem word in sommige koerante nie. Ek is ‘n verhoudingskenner wat lief is vir God se Woord. Ek bedien nie Woord nie. Ek hanteer alledaagse issues – en soek die antwoorde daarvoor in God se Woord. Die enigste ‘ghost’ wat ek graag wil ‘channel’ (Marianne se woorde), is die van die Holy Ghost.
Seksslawe, 27/07/2009, Cecile ZuBentheim “So, Gretha Wiid - wat jy ons eintlik wil vertel, is dat jy jou man met seks by jou moet hou! Se gat - wat maak dit van jou? 'n Getroude hoer!” - Johannes de Villiers se artikel in Rapport, Die koning se diensmaagd
Oeee, ek sou so graag daardie dag wou antwoord op Cecile se woede, bitterheid en seer wat ek raaklees in haar response. Maar dit sou ook verkeerd gewees het. Ek sou net weer vanuit ander hoeke die houe moes vat omdat ek klink of ek mense oordeel en dalk ‘n self- aangestelde sielkundige probeer wees. Ek is op ‘n walglike manier uitgebeeld as ‘n seks-behepte vrou wat glo dat jy jouself moet gooi en goedkoop maak vir jou man. Dis bitterlik ver van die waarheid af. Eers hoog heilige slaaf en dan goedkoop vrou op die bonnet. Sjoe!
Seks is ‘n baie belangrike deel van die huwelik, maar ongetwyfeld nie die belangrikste nie. Ek weet van baie pare wat weens onder andere mediese redes of selfs ouderdom glad nie meer seksueel aktief is nie. En van hulle is dolgelukkig. Ek weet ook van paartjies wat byna chronies seks het, wie se huwelike uitmekaar uit val. Jy het nie seks nodig om intimiteit te kan ervaar nie. En as jy jou man met seks by jou moet hou, sal hy jou kan beheer, afkraak, misbruik en speel soos ‘n marionnet. Vroue is vir seker meer werd as dit. Mans ook.
‘n Huwelik is meer as net uiterlike voorkoms, seks, geld, kommunikasie, kwaliteit tyd, respek, kinders en geloof. Dit is die somtotaal van al hierdie dinge en nog baie meer.
Enigeen wat sê dat ek dit verkondig, is besig met ʼn infame leuen. As ek sê jy moet by jou man slaap om iets te kry, is ek mos besig om myself ook daardeur te verneder. Dis niks anders as prostitusie nie. Ons as vroue is meer werd as lywe en borste en ons moet opstaan en sê: “Ons is nie net seksmaats nie, ons is nie net ma’s wat doeke moet ruil en kos moet maak nie.” Seks is baie belangrik, maar mag nooit die hoofbestanddeel van ‘n huwelik uitmaak nie. Seks is soos kommunikasie. Die huwelik kan nie daarsonder nie. As jy nie elke nou en dan kwaliteittyd aan mekaar spandeer nie, en na mekaar sit en luister nie, gaan die huwelik uitmekaar val. Dis dieselfde met seks. Al het jy ʼn fantastiese huwelik, en jy maak nie van tyd tot tyd plek vir intimiteit nie, stuur jy af op ‘n ramp. Dit gaan nie oor seks per se nie, dit gaan oor intimiteit, en om met mekaar te connect op ‘n persoonlike, intieme en privaat vlak. Ek vra dikwels vir getroudes: “Wanneer laas het jy en jou maat mekaar intens gesoen sonder dat dit uitgeloop het op seks?” Ons verleer te maklik om intimiteit te deel en mekaar te koester op fisiese vlak.
“Ek sal so baie daarvan hou as jy my in die aande help. En dan in jou sexy stem...Wie weet, as ek vroeër in die aand klaar maak, kry jy dalk meer as één bonus!” (“Vroue moet soos prostitute wees wat seks gebruik om hul mans te manipuleer.” – Hello Universe, This is Nessie webwerf).
Ag tog. Mense moet tog net bietjie ontspan en nie alles in die lewe so vreeslik ernstig opneem nie. Nee, ons is nie prostitute nie. Ons is ons mans se maats. Ons mag hulle terg, verlei en met hulle speel. Dis nie manupilasie nie, dis verhouding. Wanneer ons nie meer met mekaar speel in ons huwelike nie, verloor ons kameraadskap. Ek het nooit gesê dat seks en hulpverlening uitruilmiddels is nie. Die feit dat mense met daardie woorde in my artikel so ‘n afleiding gemaak het, sê volgens my eerder iets van hul eie bitterheid en vlak van keelvolheid teenoor hulle eie mans. As for me? Ek het ‘n speelse manier verduidelik hoe om jou man so bietjie meer gewillig te maak om te help in die huis. Maar as jy dit anders wil doen, met byvoorbeeld ‘n ernstige gesprek waar jy teenoor hom kla dat hy lamlendig is, of wil wag tot die dag dat jy berading nodig het, gaan dan groot.
"Loop kaal met stiletto’s in die huis rond."
(“Dit blyk asof Gretha Wiid wil hê ons moet terugkeer na die tyd waar mans die hoof van die huis is, en vroue oor niks anders bekommerd is as hul grimering en dat hulle nog seksueel aantreklik is vir hulle mans nie. - women24.com)
Het ek nie gesê jy moet tandeborsel met jou hoë hakke en mooi onderklere aan nie? Maar die hele huis vol...sommer so? Sê nou jy vat koue? Ek grap net. Wat ek wel vir vroue sê is dat mans van nature baie visueel ingestel is en dat jy JOU man se aandag MAG trek met allerlei oulike innoverende idees. Die klem is weer op die speelse deel. Wil women24 eerder sien dat vroue met lang toga’s in die huis rondsluip, met lang beenhare daaronder, en ‘n bolla op die kop, terwyl die man dan kwyl oor die vroue op die TV? Die raad was in elk geval gegee aan ‘n vrou wat spesifiek gevra het vir avontuurlustige tips – juis omdat sy skaam is en gevoel het dat sy ‘n bleeksiel is as dit kom by die seksuele. Dis was nie gegee as ‘n voorvereiste om jou man se aandag te trek nie, sommer net ‘n speelse idee.
Ek voel sterk daaroor dat vroue nie gebruiksartikels is nie. Net so min as wat ‘n man net ‘n beursie en ‘n handy-man is, is vroue net ‘n gesig en lyf. Maar daar is niks mooier as ‘n paartjie wat hulself mooimaak vir mekaar nie. Om jouself goed te versorg en ekstra mooi te maak met iets soos grimering, dui nie op ‘n argaïese vrou nie, maar wel op een wat mal is oor haar vrouwees. Mans moet hulleself ook ‘mooi maak’ en versorg vir hul vroue. En om speels te kan wees rondom intimiteit, sê iets van jou vrymoedigheid by jou man. Wat die grimering betref? As ‘n mooi geverfde gesiggie en sensualiteit (of soepelheid) ‘n huwelik kon laat slaag, sou ons seker heelwat minder egskeidings en gebrokenheid in ‘n plek soos Hollywood gesien het.
God het grense rondom die seksuele om ons te beskerm, maar binne daardie grense moet ons mekaar in ons huwelike geniet en mág ons avontuurlustig en selfs stuitig ook wees. As jy ooit van plan is om my seminare by te woon, moet jy weet – ek sê dinge in gewone afrikaans sodat almal my kan verstaan. En ek geniet humor net soveel as wat ek diep dinge in die lewe geniet. Sonder diepte word ons oppervlakkig. Sonder humor, word die lewe ondraaglik.
|
Terug na die vorige blad
Voorblad Media Buzz Gee vir jou man genoeg seks en hy sal by jou bly…WHAT!
|
2011 Beste Verkopers


<< May 2012 >>
| Su | Mo | Tu | We | Th | Fr | Sa |
| | | 1 | 2 | 3 | 4 | 5 |
| 6 | 7 | 8 | 9 | 10 | 11 | 12 |
| 13 | 14 | 15 | 16 | 17 | 18 | 19 |
| 20 | 21 | 22 | 23 | 24 | 25 | 26 |
| 27 | 28 | 29 | 30 | 31 | | |
|