|
Geskryf deur Gretha Wiid
|
“Ek stem nie saam met die motiveringspreker Gretha Wiid se Worthy Woman-teorie dat 'n vrou haar man soos 'n koning moet behandel nie. As jy dít doen, plaas jy jouself in 'n minderwaardige posisie. Ek het Mauritius lief as mens, nie as man nie. Ons hanteer die verskillende rolle in ons verhouding volgens ons unieke vaardighede en voorkeure. Ons verhouding is 'n vennootskap, nie 'n diktatorskap nie. Mense moet ophou verplig voel om ouderwetse idees oor man- en vrouwees aan te hang en eerder doen wat vir jóú as individu werk” - Vicky Davis se in Sarie se Oktober 2009 uitgawe:
Gits, ek stem ook nie saam met dáárdie Gretha Wiid nie. Diktator se voet! Geen man is my baas of diktator nie. Ook nie my eie man nie. Maar ek glo dat manne soos konings wil voel by hulle vroue....EN vroue weer soos koninginne by hulle mans. En dít, het absoluut niks te doen met slawerny nie. Dis ‘n verhouding van wedersydse respek, agting vir mekaar, en waar ons mekaar koester en die kroon op mekaar se koppe hou. Ek hang ook nie ouderwetse idees oor man- en vrouwees aan nie. Ek hang God se Woord aan. Nie volgens skrifgeleerdheid nie, maar wel met die leiding en die oortuiging van die Heilige Gees. Mense wat nie die dinge van die Gees verstaan of kies nie, sal hierdie dinge in elk geval nooit verstaan nie. Ek het ook nie ‘n Worthy Women-teorie beet nie, maar ‘n Woord lering. Dankie in elk geval vir die hele teorie gedagte – ek voel so bietjie soos Plato of Galilei.
“Die NG Kerk en Hervormde Kerk het verlede week gesê hulle deel nie Wiid se standpunt dat die vrou in die huwelik ondergeskik is aan die man nie.” - Uit Rapport 2009-08-09
Ek is oor en oor gekruisig in die media en deur verskillende teoloë oor my woordkeuse van hoofdyskap en onderdanigheid. Ongelooflik! Watter woorde presies gebruik hulle dan om Efes.5 aan te haal? Die verskil kom daarby in dat ek net aangehaal is waar ek die Bybel se woorde gebruik, maar nooit die geleentheid gegun is om te deel wat daardie woorde vir my beteken nie. ‘Ondergeskik’ is nie ‘n woord wat ek gebruik het nie, onderdanig wel. Meeste mense sal uit die aard van die saak dink dat dit een en dieselfde ding is. Maar dit is nie. Die een dui op minderwaardigheid, die ander op dien van die ander. Efes. 5 leer dat ons aan mekaar onderdanig moet wees. Ons moet ons verbondsmaat dus eer, respekteer en bereid wees om hulle te kies bo onsself. Mans moet hulle vroue dus ook dien. Dit bly ‘n verwarrende ding as jy dit net so lees of aanhaal. Maar, ek het vrede gevind toe ek by God self gaan stilraak het, en Sy hart gehoor het rondom die man en vrou in die huwelik.
Sonder ‘n man wat God dien met sy hele lewe, is onderdanigheid net nog ‘n woord wat vroue gaan seermaak. Vir my is die verbond tussen man en vrou soos ‘n sambreel. Sonder die raamwerk van ‘n sambreel, het jy net ‘n stuk lap. En so ook het ‘n raamwerk alleen geen funksie nie. Saam maak hulle iets wonderliks en funksioneel, en beskerm hulle diegene wat daaronder moet beweeg. As die beskermende lapwerk die sterk raamwerk sou probeer vernietig, of andersom, word die totale funksie van die sambreel vernietig. In ‘n huwelik het ‘n man en vrou mekaar nodig, maar is hulle tog verskillend in funksie. Nie ongelyk in waarde nie, net verskillend in roeping. In my huis, is ek en Francois absoluut mekaar se gelyke. Ons is ʼn span en ons hardloop skouer aan skouer, maar hy staan heel eerste voor God verantwoordelik vir ons as gesin. En dis maklik om my man te eer en te ondersteun. Hy is opreg lief vir die Here, en hy eer en koester my as sy koningin.
“Die man is die koning van die huis en sy “worthy” vrou moet sy kroon op sy kop hou.” (Vroue sowel as mans was woedend en jy is uitgekryt as ”ouderwets” en dat jy “patriargie bevorder” - Beeld).
Dis nie ek wat gesê het dat mans die konings van hul huise moet wees nie. Dit was God wat so gesê het. En as God so sê, dan SAL ek daarby staan! Die koningskap waarna God se Woord verwys, het absoluut niks te doen met heerskappy en baasskap nie. Koningskap is ‘n plek van verantwoordelikheid, nie ‘n reg nie. En vir die wat belangstel? Vroue is die koninginne van hulle huis. Mans moet die krone op hulle vroue se koppe ook hou en hulle dien! Maar ai, niemand het die moeite gedoen om daardie dele aan te haal nie. Sou dit nie wonderlik wees as elke man soos ‘n koning by sy eie vrou, en elke vrou soos ‘n koningin by haar eie man gevoel het nie? Huweliks Utopia!
So, vir al die vroue (en mans) wat dink ek is patriargaal, verkramp en ouderwets, hier is dit nou: Viva die vrou! Weg met slawerny! Skep ‘n koningshuis waar die twee gekroondes die Koning van alle konings dien en liefhet. En die prinse en prinsesse emosioneel veilig en geestelik sterk is.
|
Terug na die vorige blad
Voorblad Media Buzz Die man is die koning en die vrou sy onderdaan…GA!
|
2011 Beste Verkopers


<< May 2012 >>
| Su | Mo | Tu | We | Th | Fr | Sa |
| | | 1 | 2 | 3 | 4 | 5 |
| 6 | 7 | 8 | 9 | 10 | 11 | 12 |
| 13 | 14 | 15 | 16 | 17 | 18 | 19 |
| 20 | 21 | 22 | 23 | 24 | 25 | 26 |
| 27 | 28 | 29 | 30 | 31 | | |
|