Media Buzz
|
Hoekom reageer ek op die media?
Ek reageer nie op die media se berigte omdat ek my sieninge wil verdedig nie. Ek wil bloot hier die geleentheid en spasie gebruik om darem op my eie webtuiste te sê wat ek wérklik gesê het.
Daar is baie stellings wat ek kwansuis gemaak het, waarvan ek ook maar eers in die koerante gelees het. Al die stellings het maar iets te make gehad met die hoofdyskap van mans, onderdanigheid van vroue, en die seksuele intimiteit in die huwelik. Dit was was wild en woes! Een ding het ek geleer: Party joernaliste skryf net wat hulle wil, en besluit self op wat hulle die klem wil plaas. Een berig in ‘n Sondagkoerant waar ek volgens die inhoud blykbaar die slaapkamer deur oopgegooi het, was een so ‘n artikel. Die joernalis het in my huis gesit, heerlik gekuier en gesels oor alles geestelik en wonderlik – oor alles behalwe seksuele onderwerpe. En wat lees ek daardie Sondag? Hoofopskrifte oor die slaapkamer! Al die aanhalings was geneem vanuit stokou Finesse artikels wat buite konteks geplaas is. Oornag is ek geëtiketteer as vulgêr, platvloers en pervers. Om nie te praat van die etiket van slawerny nie. Baie mense dink dat ek net praat oor seksuele goed by seminare. Die media berigte het hierdie valse persepsie by sommiges verewig.
Mense lees koerante soos wat ons destyds ‘telefoontjie’ gespeel het. Hulle reageer op iets wat nooit uit die bron se mond gekom het nie, en kry reaksie van ander op daardie reeds verkeerde aantygings. Met ‘telefoontjie’ word die oorspronklike korrekte woord darem aan die einde gegee. Ek was nie so gelukkig nie. As die media oor jou wil skryf – reg of verkeerd, waarheid of te nie – het jy net geen spreukbeurt nie. Ek is nooit gevra wat ek wel gesê het en of ek verkeerd aangehaal is nie. Wat my die meeste stomgeslaan het (en steeds doen), was dat mense veral geskrewe media se inhoud vat as die volle waarheid. Vandag weet ek – ek kan ‘n wêreld oorlog begin deur mense verkeerd en buite konteks aan te haal. En as ek boonop die fokus laat val op enkele aspekte van ‘n onderhoud wat gevoer is, kan ek ‘n hele land met my saam sleur.
Geen artikel kan ooit enige iemand se persepsies en oortuigings volledig weerspieël nie. En om iemand se hart net ten dele te hoor of te ken, beteken dat jy met ‘n halwe prentjie sit oor iemand. Joernalistiek is ook meestal subjektief en skryfwerk word nou maar eenmaal gefilter deur die joernalis se eie persepsies en oortuiginge. En sensasie is by sommige media heel bo aan die prioriteitslys.
Eerstens is ek gemerk as die vrou wat slawerny aanvuur en mans weer kroon tot die base in die huis. In ‘n bestek van twee weke nadat die slawerny-bom gebars het, word ek toe oornag die vrou wat pervers is as dit kom by seks. Ek het mos kwansuis gesê dat ‘n vrou haar man moet verlei op die kar se bonnet, en vuurwarm seks daarop moet hê. Nie lank daarna, toe is dit Huisgenoot se beurt. En wie’s ek toe? Die vrou met seksgebooie! Die moets en moenies. Verkramp, outyds, geen pret, konserwatief…..seks is SONDE! Skielik weet ek nie meer waar die bonnet inpas nie. So baie titels, so baie sieninge. Daarom het ek besluit om darem te sê wat werklik my sieninge is (die ware Gretha Wiid) – oefêntik en all. Lees die res, en leer ken ‘n deel van my hart.
|
|
Geskryf deur Gretha Wiid
|
|
Dat ons ons prioriteite moet herbekyk en moet ophou om kerk-kerk te speel. Ons moet terugkeer na God se Woord en besef dat Jesus die Leeu van Juda is, wat was, is en vir altyd sal wees. Ons moet God deelmaak van elke aspek van ons lewe, en werklik verhouding met Hom hê – nie verhouding via die kerk, of verhouding via die predikant nie – persoonlike verhouding. God stel nie belang in uiterlike vorme van godsdiens nie. Hy begeer om deel te wees van jou werk, ouerskap, geldsake, braai met vriende,ag, alles, ook jou slaapkamersake. Dis ook my hartsbegeerte dat ons die plek van ons huweliksmaats en kinders, teenoor die plek van ons beroepe, geld, ons sosiale lewe en selfs die televisie sal herbedink. Ons jaag tog so om net die toppunt van die leer te bereik...net om by die toppunt daarvan te besef dat die leer al die tyd teen die verkeerde muur gestaan het. Ons maak te dikwels die fout om kwansuise dringende sake voor belangrike sake te hanteer. Ons kan nooit tyd terugkoop met ons eggenote en kinders nie. Hoe meer gekompliseerd ons lewe raak, hoe meer moet ons onthou om te fokus op die eenvoudige dinge. The only thing evil needs to prosper, is for good men to do nothing and fear the onslaught of people. Compromise God se Woord, en jy compromise jou eie blessing! |
|
|
Geskryf deur Gretha Wiid
|
“Die Worthy-Woman samekomste kos R150-00. Bring kontant vir cd’s.”
(“Naas Jesus, is kontant koning. Ek ruik 'n handelaar in die tempel - vervlakste huigelaars.” - kletskerk.com)
Ek het nog nooit gehuigel oor geld nie. Die samekomste het in elk geval R175 gekos, nie R150 nie (moet asseblief nie vir kletskerk laat weet nie – net nou is ek regtig in die moeilikheid). Kos vir 7000 mense, kunstenaars, ‘n ouditorium van Moreleta se grootte...gaan maak self die sommetjies. Ons het nooit op enige plek gesê dat mense kontant moet bring na die WWC samekoms toe nie. Die klaagster hierbo het dit gekry op ons huweliksverykkingskampe se besprekingsvorms. Google is mos groot! Mense vra met elke kamp of hulle van die DVD’s en CD’s tydens die kampe (nie kerkbyeenkomste nie) kan aankoop. Ons het nie ‘n opvangs by die lodge waar ons huweliksnaweke gehou word om aankope elektronies te kan akkommodeer nie. Daarom die ‘kontant’ storie. Ek en Francois het ‘n laaaaang pad gestap rondom finansies. Ons is vrygemaak van gierigheid en wêreldse planne rondom geld. Ons weet dat God (Jehova Jireh) ons voorsiener is. |
|
Geskryf deur Gretha Wiid
|
|
Daar is nogal baie weergawes van die bonnetgrappie wat die rondte doen. Toe daardie aanhaling in die koerant verskyn het, het ek geweet: I will never live this one down! Ons het grootgeword met soveel dogma en verwarring rondom die woord seks. Die hele ding van seks as geskenk van God versus seks as sonde, heiligheid versus genot, die wonder van seks versus die gevaar van seks. Dis veral kinders van die Here wat nie weet waar God se grense, ten opsigte van seks, is nie. Natuurlik het God grense om ons te beskerm in liggaam, siel en gees. Maar binne daardie grense moet ons mekaar in ons huwelike geniet en dinge soms ook avontuurlustig hou. My seminare gaan hopelik vir altyd gekenmerk word deur my humor en my reguit manier van praat, maar mag die Here my help dat ek nooit pervers sal wees nie. Die bonnet-grappie was regtig ‘n tong-in-die-kies aanmerking wat heeltemal buite konteks aangehaal is. Maar nou ja! Wat is in elk geval beter? Om jou man in te wag voor die televisie in jou sweetpak, of hom met passie te groet na ‘n lang dag weg van mekaar....sommer daar in die motorhuis (knipoog en lag)? Mense wat al na my kom luister het, sal weet dat ek miskien baie reguit praat, maar dat ek eintlik baie konserwatief in my sieninge is. |
|
Geskryf deur Gretha Wiid
|
Die blote feit dat die opskrif verwys na seksgebooie plant reeds die gedagte en persepsie by die leser dat dit MY reëls is, en dat ek daarmee die septer wil swaai.
Die grap van die jaar is dat ek met so baie van Elmari Craig se sieninge saamstem. Maar die artikels het dit laat klink asof ons aan twee teenpole van mekaar staan. Ek stem egter nie saam (en sal nooit weer nie) met die hele ding van masturbasie, pornografie en seks voor die huwelik nie.
As kerk (liggaam van Christus) het ons so lou geword. Moslems blaas plekke en mense op vir hulle geloof. Hulle staan op in skole as hulle geloof teenkanting kry. Ons christene kyk anderpad. Ons wil God net volg solank ons niks moet opoffer nie. Ons wil glo dat ons kerke ons kan red, dat ons predikers se woord die begin en die einde van openbaring en die volle waarheid is. Ons wil God ken, maar Hom nie dien nie. Ons wil kerk-kerk speel, en elke Sondag ‘n quick-fix of ‘n spike vir die week kry. Maar om die braaivleisvuur met drank en vuil grappe word God opsy geskuif – Hy wil mos hê dat ons die lewe moet geniet, reg? Ons sê elke mens sleg wat durf iets aanhaal uit God se Woord wat ons dalk aanvat of konfronteer – ons verdoem hulle as arrogant en as valse profete. Doen asb die moeite om ten minste 2 Tim. 4: 1-5 te gaan lees. Daar lees ons dat daar ‘n tyd sal kom dat mense net wil luister na dinge wat hulle nie konfronteer of aanvat nie. ‘n Gemaksone waar ons glo dat ons almal eintlik okay en gered is net omdat ons sê dat ons christene is of aan ‘n kerk behoort.
As jy ‘n kind van die Here is – nie ‘n geheime agent vir die koninkryk nie – dan is dit ook jóú plig om te staan by God se Woord. En as iemand jou vra wat reg is volgens God, mag jy mos geen ander lering as die Woord as antwoord gee nie. God sê hoeka dat ‘n fontein nie vars én brak water kan gee nie. Is jy vars of brak? Warm of koud? Kies dan vandag weer, en staan daarby – in publiek, in jou kamer, tussen jou eie mense, tussen vreemdes. En hou daarby – selfs al word jy uitgekryt en sleggesê. Dis die minste wat ons kan doen om Jesus te eer vir die lyding wat Hy vir ons moes deurgaan. Ons vlees moet neergelê word, sodat ons gees kan lewe!
Ons is so vinnig om te verkondig (en te verdedig) dat ons nie mag oordeel nie. Natuurlik mag ons nie ménse oordeel nie, maar ons mag die vrug wat ons dra meet aan wat God sê. Jesus self het vir die prostituut se menswees opgekom deur haar omstanders uit te daag om die eerste klip te gooi as hulle nie self sonde het nie. Net daarna het Hy egter aan haar gesê om te gaan, en nie meer vol te hou met daardie sonde nie. Jesus het nie die mens geoordeel nie, maar die sonde wel. En wie is ek om te sê wat sonde is en wat nie? Die Woord is my riglyn. Daarmee saam oordeel ek nie die sonde van enigiemand nie – net God is by magte om dit te doen. Maar as ek gevrá word wat ek dink reg en verkeerd is in God se oë, is die Woord my grondslag. So sal Hy ook my sonde oordeel – waarvan daar steeds baie is! Maar as kind van die Here kán ek nie, en mág ek nie stilbly oor wat God se Woord sê net omdat ek mense se teenkanting vrees nie – spesifiek nie wanneer ek in die openbare arena gevra word om my opinie nie.
Jesus Christus is Koning en sy Woord staan bo ALLES! Maak die Woord altyd vir ons sin? Nee! Is dit vir ons menslike verstand altyd duidelik waarom God sekere dinge as sonde uitwys? Ook nie. Solank ons op aarde is sal ons net net dele ken, onthou julle? En slim redenasies kan ook nie die Waarheid uitrafel nie. Die Woord self leer ons so in 1 Kor. 1:18-31. Die Woord leer ons dat God se gedagtes vêr bo ons gedagtes is. ons koppe en ons vlees sal nooit volle sin maak daaruit nie. dit sal vir altyd ‘n stryd wees tussen gees en vlees – dit wat ons wíl, en dit wat ons móét!
So baie van julle het vrae gehad oor dinge soos masturbasie. Ek lees wat God sê oor vleeslike begeertes en drange - nie ‘n Gretha Wiid opinie nie, ‘n Woord waarheid - (Rom. 8:5, Kol.3:5, Gal.5:19, 2 Pet.2:10, 1 Joh.2:16, ens.), en begeer om my lewe daarvolgens in te rig. Nie koekerig en verkramp ten opsigte van die seksuele nie – maar bevry, vol pret en avontuur, maar binne God se raamwerk. As jy die skrif het wat die teendeel bewys, kan dit gerus stuur.
Vir die dames wat glo dat my man ‘n buite-egtelike verhouding gehad het agv ‘n onbevredigende sekslewe saam met my – jy’s geregtig om so te dink. Ek is oortuig dat ek steeds baie het om te leer. Ek het egter reeds geleer dat mans nie noodwendig rondloop weens ‘n gebrek aan seks by die huis nie, maar meer as dikwels eerder weens ‘n soeke na erkenning van sy manwees, onopgeloste seer uit die verlede en ‘n soeke om identiteit te bevestig. Daar is so baie vrouens wat seer het omdat hulle altyd moet hoor dat hulle mans rondgeloop het agv van hulle ontoereikendheid of kwansuise onvermoë. Dis nie noodwendig waar nie. My eie man het lank gesoek na die maatstaf van sukses, die finale kriteria van ‘being man enough’. So baie mans wil hulle manwees probeer bewys met geld, karre, mag in die besigheidswêreld, gesag in die huis, alkohol, pornografie….ag, noem dit. Hulle vroue kan mooi, sexy, smeulend en baie vaardig wees as dit by seks kom, dan sal die man se soeke en leemte steeds nie gevul wees nie. Francois is nie skaam om oor sy verlede en sy foute te praat nie, want God het hom kom heelmaak. Sy identiteit is geleë in sy Vader. Punt! Natuurlik het ek ‘n stewige bydrae daartoe gehad dat my man iemand anders se arms opgesoek het. Ek het vir my kinders geleef en hom emosioneel afgeskeep. Elke mens soek tog erkenning, waardering en bewondering by sy/haar maat? Ek het dit nie aan hom gegee nie. Seks wel – maar nie bewondering nie, nie respek vir sy mens- en manwees nie.
En dít is my en Francois se boodskap: ons moet na mekaar kyk – almal van ons in verhoudinge. Ons leef so maklik by mekaar verby, praat by mekaar verby en groei op die ou end weg van mekaar. Geen seks in die wêreld kan so iets red nie. Spr. 27:7 sê dat selfs ‘n bitter eetding lekker sal wees vir iemand wat werklik honger is. Baie vroue knoop aanlyn verhoudinge aan, sms-verhoudinge met kollegas, intieme geselsies met manne by die werk – bloot omdat hulle by daardie persoon waardevol, belangrik, mooi, interessant, en gewaardeerd voel. En dan drink hulle maklik die beker van bitter water – net om hulle harte se dors te les. Owerspel gaan allermins altyd oor seks…inteendeel. Dis die dinge wat ons harte en menswees voed wat ons bymekaar hou, nie seks nie. |
|
Geskryf deur Gretha Wiid
|
Gee vir jou man genoeg seks en hy sal by jou bly…WHAT!
"If Gretha Wiid had one wish, it seems, it would be that we return to a time when men were heads of their households and women tittered around worrying about nothing more than their make-up and how sexually attractive they are to their husbands. It is, as we all know by now, a recipe for disaster. But that doesn’t stop Ms Wiid from behaving like a self-proclaimed latter-day prophetess channeling the hungry ghost of some long departed 50s housewife." – Marianne Thamm uit www.women24.com
Dit is die grootste klomp nonsens wat ek sekerlik oor myself gelees het. Wat ek vir vroue sê is dat mans van nature baie visueel ingestel is. Maak jouself mooi vir jou man. Uit respek en liefde vir hom, én vir jouself. Ek wonder, sou dit beter wees as ek vir vroue vertel dat slordigheid aanvaarbaar is, of stink asems en lang beenhare, omdat liefde nie gaan oor die uiterlike nie? Huh?
Ek voel sterk daaroor dat vroue nie gebruiksartikels is nie. Hulle waarde is soveel meer as die uiterlike (wat in elk geval vergaan met tyd). Mans moet hulleself ook goed versorg en ‘mooi maak’ vir hulle vroue. Uit respek en liefde vir haar. Ek praat reguit daaroor met mans by my seminare. Dit is laakbaar om te dink dat mense dit wil laat klink asof ek sê dat vroue net ‘n gesig en ‘n lyf is. Net so min is mans net ‘n beursie en ‘n handy-man. Om jouself goed te versorg sê nie iets van slawerny of argaïse 50’s tradisies nie, dit sê iets van jou karakter. En dit sluit mans in. Ek hanteer by my seminare die verskillende aspekte van die huwelik. Intimiteit, begeerte en die uiterlike is maar ‘n klein deeltjie daarvan. As grimering en sensualiteit ‘n huwelik kon laat slaag, sou ons seker heelwat minder egskeidings en gebrokenheid in ‘n plek soos Hollywood gesien het.
En o ja – ek het myself nog nooit ‘n profeet genoem nie. Ek is ook nie ‘n evangelis soos wat ek deesdae genoem word in sommige koerante nie. Ek is ‘n verhoudingskenner wat lief is vir God se Woord. Ek bedien nie Woord nie. Ek hanteer alledaagse issues – en soek die antwoorde daarvoor in God se Woord. Die enigste ‘ghost’ wat ek graag wil ‘channel’ (Marianne se woorde), is die van die Holy Ghost.
Seksslawe, 27/07/2009, Cecile ZuBentheim “So, Gretha Wiid - wat jy ons eintlik wil vertel, is dat jy jou man met seks by jou moet hou! Se gat - wat maak dit van jou? 'n Getroude hoer!” - Johannes de Villiers se artikel in Rapport, Die koning se diensmaagd
Oeee, ek sou so graag daardie dag wou antwoord op Cecile se woede, bitterheid en seer wat ek raaklees in haar response. Maar dit sou ook verkeerd gewees het. Ek sou net weer vanuit ander hoeke die houe moes vat omdat ek klink of ek mense oordeel en dalk ‘n self- aangestelde sielkundige probeer wees. Ek is op ‘n walglike manier uitgebeeld as ‘n seks-behepte vrou wat glo dat jy jouself moet gooi en goedkoop maak vir jou man. Dis bitterlik ver van die waarheid af. Eers hoog heilige slaaf en dan goedkoop vrou op die bonnet. Sjoe!
Seks is ‘n baie belangrike deel van die huwelik, maar ongetwyfeld nie die belangrikste nie. Ek weet van baie pare wat weens onder andere mediese redes of selfs ouderdom glad nie meer seksueel aktief is nie. En van hulle is dolgelukkig. Ek weet ook van paartjies wat byna chronies seks het, wie se huwelike uitmekaar uit val. Jy het nie seks nodig om intimiteit te kan ervaar nie. En as jy jou man met seks by jou moet hou, sal hy jou kan beheer, afkraak, misbruik en speel soos ‘n marionnet. Vroue is vir seker meer werd as dit. Mans ook.
‘n Huwelik is meer as net uiterlike voorkoms, seks, geld, kommunikasie, kwaliteit tyd, respek, kinders en geloof. Dit is die somtotaal van al hierdie dinge en nog baie meer.
Enigeen wat sê dat ek dit verkondig, is besig met ʼn infame leuen. As ek sê jy moet by jou man slaap om iets te kry, is ek mos besig om myself ook daardeur te verneder. Dis niks anders as prostitusie nie. Ons as vroue is meer werd as lywe en borste en ons moet opstaan en sê: “Ons is nie net seksmaats nie, ons is nie net ma’s wat doeke moet ruil en kos moet maak nie.” Seks is baie belangrik, maar mag nooit die hoofbestanddeel van ‘n huwelik uitmaak nie. Seks is soos kommunikasie. Die huwelik kan nie daarsonder nie. As jy nie elke nou en dan kwaliteittyd aan mekaar spandeer nie, en na mekaar sit en luister nie, gaan die huwelik uitmekaar val. Dis dieselfde met seks. Al het jy ʼn fantastiese huwelik, en jy maak nie van tyd tot tyd plek vir intimiteit nie, stuur jy af op ‘n ramp. Dit gaan nie oor seks per se nie, dit gaan oor intimiteit, en om met mekaar te connect op ‘n persoonlike, intieme en privaat vlak. Ek vra dikwels vir getroudes: “Wanneer laas het jy en jou maat mekaar intens gesoen sonder dat dit uitgeloop het op seks?” Ons verleer te maklik om intimiteit te deel en mekaar te koester op fisiese vlak.
“Ek sal so baie daarvan hou as jy my in die aande help. En dan in jou sexy stem...Wie weet, as ek vroeër in die aand klaar maak, kry jy dalk meer as één bonus!” (“Vroue moet soos prostitute wees wat seks gebruik om hul mans te manipuleer.” – Hello Universe, This is Nessie webwerf).
Ag tog. Mense moet tog net bietjie ontspan en nie alles in die lewe so vreeslik ernstig opneem nie. Nee, ons is nie prostitute nie. Ons is ons mans se maats. Ons mag hulle terg, verlei en met hulle speel. Dis nie manupilasie nie, dis verhouding. Wanneer ons nie meer met mekaar speel in ons huwelike nie, verloor ons kameraadskap. Ek het nooit gesê dat seks en hulpverlening uitruilmiddels is nie. Die feit dat mense met daardie woorde in my artikel so ‘n afleiding gemaak het, sê volgens my eerder iets van hul eie bitterheid en vlak van keelvolheid teenoor hulle eie mans. As for me? Ek het ‘n speelse manier verduidelik hoe om jou man so bietjie meer gewillig te maak om te help in die huis. Maar as jy dit anders wil doen, met byvoorbeeld ‘n ernstige gesprek waar jy teenoor hom kla dat hy lamlendig is, of wil wag tot die dag dat jy berading nodig het, gaan dan groot.
"Loop kaal met stiletto’s in die huis rond."
(“Dit blyk asof Gretha Wiid wil hê ons moet terugkeer na die tyd waar mans die hoof van die huis is, en vroue oor niks anders bekommerd is as hul grimering en dat hulle nog seksueel aantreklik is vir hulle mans nie. - women24.com)
Het ek nie gesê jy moet tandeborsel met jou hoë hakke en mooi onderklere aan nie? Maar die hele huis vol...sommer so? Sê nou jy vat koue? Ek grap net. Wat ek wel vir vroue sê is dat mans van nature baie visueel ingestel is en dat jy JOU man se aandag MAG trek met allerlei oulike innoverende idees. Die klem is weer op die speelse deel. Wil women24 eerder sien dat vroue met lang toga’s in die huis rondsluip, met lang beenhare daaronder, en ‘n bolla op die kop, terwyl die man dan kwyl oor die vroue op die TV? Die raad was in elk geval gegee aan ‘n vrou wat spesifiek gevra het vir avontuurlustige tips – juis omdat sy skaam is en gevoel het dat sy ‘n bleeksiel is as dit kom by die seksuele. Dis was nie gegee as ‘n voorvereiste om jou man se aandag te trek nie, sommer net ‘n speelse idee.
Ek voel sterk daaroor dat vroue nie gebruiksartikels is nie. Net so min as wat ‘n man net ‘n beursie en ‘n handy-man is, is vroue net ‘n gesig en lyf. Maar daar is niks mooier as ‘n paartjie wat hulself mooimaak vir mekaar nie. Om jouself goed te versorg en ekstra mooi te maak met iets soos grimering, dui nie op ‘n argaïese vrou nie, maar wel op een wat mal is oor haar vrouwees. Mans moet hulleself ook ‘mooi maak’ en versorg vir hul vroue. En om speels te kan wees rondom intimiteit, sê iets van jou vrymoedigheid by jou man. Wat die grimering betref? As ‘n mooi geverfde gesiggie en sensualiteit (of soepelheid) ‘n huwelik kon laat slaag, sou ons seker heelwat minder egskeidings en gebrokenheid in ‘n plek soos Hollywood gesien het.
God het grense rondom die seksuele om ons te beskerm, maar binne daardie grense moet ons mekaar in ons huwelike geniet en mág ons avontuurlustig en selfs stuitig ook wees. As jy ooit van plan is om my seminare by te woon, moet jy weet – ek sê dinge in gewone afrikaans sodat almal my kan verstaan. En ek geniet humor net soveel as wat ek diep dinge in die lewe geniet. Sonder diepte word ons oppervlakkig. Sonder humor, word die lewe ondraaglik. |
|
|
|
|
<< Begin < Vorige 1 2 Volgende > Einde >>
|
|
JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL |
Terug na die vorige blad
Voorblad Media Buzz
|
2011 Beste Verkopers


<< February 2012 >>
| Su | Mo | Tu | We | Th | Fr | Sa |
| | | | 1 | 2 | 3 | 4 |
| 5 | 6 | 7 | 8 | 9 | 10 | 11 |
| 12 | 13 | 14 | 15 | 16 | 17 | 18 |
| 19 | 20 | 21 | 22 | 23 | 24 | 25 |
| 26 | 27 | 28 | 29 | | | |
|